Die vertrouensverhouding met die kommersiële landbou moet sodanig herstel word sodat dié deel van die bedryf sy belangrike rol in die proses van grondhervorming in Suid-Afrika kan vervul.
Dít was ’n versugting wat mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, op plaasbesoeke aan lede van die Pro-Agri Forum in die Vrystaat en die Karoo uitgespreek het. Mantashe sê die waarde van landbouers om ’n verskil in vestigingsprogramme vir boere te maak, moet deur rolspelers en die Regering besef word.
Mantashe het ’n beroep op die kommersiële bedryf gedoen om op alle vlakke van inisiatiewe rondom grondhervorming betrokke te raak en nie net op die hoogste ministeriële vlak nie. Hy sê interaksie met regeringstrukture op provinsiale, asook voetsoolvlak. is van uiterste belang om hervorming te laat vlot.
Een van die grootste struikelblokke in die proses is wankommunikasie wanneer die Regering en die boeregemeenskap by mekaar verbypraat.
Mnr. Roelf Jacobs, voorsitter van Vrystaat Landbou se jongboerkomitee wat ook die plaasbesoek meegemaak het, het die informele gesprek met Mantashe as iets kosbaars beskryf wat meer gereeld moet plaasvind.
Jacobs deel Mantashe se sentiment dat die kommersiële landbou net so ’n belangrike deel van Suid-Afrika as enige ander sektor uitmaak en dat die Regering nie sonder die samewerking van die kommersiële landbou kan funksioneer nie.
Jacobs het ook ’n pleidooi gelewer dat met nuwe oë na die landbou gekyk word, aangesien daar ’n nuwe geslag opkomende kommersiële boere is wat reeds ’n produk is van die nuwe Suid-Afrika is. Húlle verdien ’n kans om op gelyke voet nasionaal en internasionaal te kan meeding, met die nodige ondersteuning van die regeringsdepartemente, sê Jacobs.
21 Desember 2010