
Voorspellings van “wilde” uitsprake oor grondhervorming en nasionalisering wat in die aanloop tot die ANC se beleidskonferensie en die party se verkiesingskonferensie in Desember meer gereeld gaan voorkom, word waar.
Dít is die mening van prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Noordwes, ná die ANC-jeugliga gesê het die land benodig ’n minister van nasionalisering.
Volgens die Jeugliga sal só ’n minister ’n mandaat hê wat strook met die Vryheidsmanifes. Luidens ’n berig op Nuus24.com het mnr. Ronald Lamola, ondervoorsitter van die ANC-jeugliga in ’n lesing oor ekonomiese vryheid in Durban gesê: “Wit polisiebeamptes is gedwing om voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) verskoning te vra. Korporatiewe Suid-Afrika is nooit voor die WVK geroep nie.”
Werkloosheid
Lamola sê werkloosheid onder die jeug kan nie opgelos word sonder onteiening nie, en hy het weer ’n pleidooi gelewer vir onteiening sonder vergoeding.
“Ons het optrede so sterk soos oorlog nodig om dit terug te bring na die Afrikane.” Lamola sê dit is ’n “illusie as Suid-Afrikaners glo hulle kan hul grond vreedsaam terugkry”.
Luidens die berig het sowat 100 mense betoog buite die saal waar Lamola gepraat het. Dié groep het glo T-hemde aangehad wat hul steun vir pres. Jacob Zuma bevestig. Lamola se toespraak het ook sowat ’n uur laat begin omdat daar na bewering meer joernaliste as ondersteuners in die saal was.
Verdeeldheid
Duvenhage sê hoe nader die ANC se konferensies kom, hoe meer sigbaar is die verdeeldheid in die party. “Die een kamp is die Zuma-kamp, wat hulleself verbasend sterk uitspreek teen nasionalisering en onteiening.
"Die opponerende groep hang ’n ander ideologie oor grond en eienaarskap aan, en sluit mense soos mnr. Tokyo Sexwale (sakeman en Minister van Nedersettings), me. Thandi Modise (lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC) en mnr. Cyril Ramaphosa (sakeman) in.”
Duvenhage sê dit is interessant om te sien dat onafhanklike sakemanne iets soos die nasionalisering van grond steun. Dít kan weens twee redes wees; die eerste dat hulle moontlik finansiële druk ervaar en ’n uitweg daaruit soek, of die tweede is dat hulle politieke status hoër ag as ’n onafhanklike ekonomiese posisie.
“Ek verwag nie dat ons met ’n minister van nasionalisering te make gaan kry nie. Hierdie (Lamola se) stellings moet gesien word as blote uitsprake wat gemaak word,” aldus Duvenhage.
Bron: Nuus24