
Luidens ’n verklaring deur Solidariteit gaan De Ruyter se bedanking die Eskom-krisis “verdiep en nie verlig” nie. “Die verkeerde mens het bedank.”
Suid-Afrika beleef fase 5-beurtkrag, met veral die landbou en klein besighede wat baie swaar trek.
Solidariteit vervolg: “Die probleem by Eskom is nie die bedryfswil van die uitvoerende hoof nie, maar die politieke wil van die regering. Die beste persoon in die land kan in dié pos aangestel word, maar die huidige politieke bedeling maak die persoon se taak onmoontlik.”
Volgens die organisasie het De Ruyter “op die korrupsiesuurstoflyn gestaan”.
“Diegene wat meer wil plunder, het die grootste druk uitgeoefen dat hy moet bedank. Groter korrupsie ná De Ruyter is ’n wesenlike gevaar.”
Mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, sê De Ruyter se bedanking is “baie, baie slegte nuus” vir Suid-Afrika.
Hy meen De Ruyter was onder moeilike omstandighede die beste keuse vir Eskom, al het hy nie alles reg gedoen nie. “Hy het grootliks die regte ding gedoen by Eskom, wat onder meer beteken het ons moes maar daarmee saamlewe dat daar min elektrisiteit was en kort-kort beurtkrag het in ’n poging om die hele stelsel te stabiliseer en die nodige onderhoud te doen.”
Roodt sê dit kan wees dat die persoon wat by De Ruyter gaan oorneem, voortgaan met wat hy gedoen het, dog sy “grootste vrees” is dat die persoon onder groot druk gaan wees om soveel moontlik elektrisiteit op te wek oor die volgende jaar tot die algemene verkiesing om die ANC te ondersteun, en daarna gaan die hele stelsel in duie stort.
Volgens hom is die beste wat kan gebeur, dat die president nie De Ruyter se bedanking aanvaar nie en vir mnr. Gwede Mantashe afdank. “Mantashe en ander ouens het die druk op André de Ruyter geplaas om te bedank en Mantashe is onder andere verantwoordelik vir die gemors waarin ons is.
“Ek dink ons het ernstige moeilikheid op pad. Dis ’n voorbeeld van ’n destruktiewe ANC-regering wat weereens Suid-Afrika in ’n krisis gedompel het.”
Mnr. Michael Jordaan, entrepreneur, het in reaksie op De Ruyter se bedanking getwiet: “As jy kan, installeer sonkrag. Die toekoms van krag is gedesentraliseer.”
Mnr. Dean Macpherson, DA-LP, het op Twitter geskryf hy is seker De Ruyter het bedank omdat hy die ondersteuning van pres. Cyril Ramaphosa verloor het. McPherson meen dis omdat Ramaphosa van mnr. Gwede Mantashe se steun afhanklik was om in die ANC te oorleef. “Ons weet hoe gou Gwede ADR (Andre de Ruyter) weg wou hê. Toe Ramaphosa gedwing is om tussen SA en die ANC te kies, het hy weer sy ware kleure gewys.”
Sal Oberholzer dan nou bly?
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê De Ruyter se bedanking is ’n groot slag vir Suid-Afrika. “Ons as landbousektor het ’n baie goeie verhouding met hom en Jan Oberholzer gehad. Die groot vraag is of Oberholzer nou gaan bly as die situasie verder gaan versleg.
“Hulle het nou politieke teikens geraak en dit is baie jammer, want hulle het alles in die stryd gewerp om korrupsie bloot te lê en wanpraktyke aan die kaak te stel. Die afgelope tyd het hulle ’n klomp mense gevang wat gehalte-steenkool iewers gaan aflaai en dan met ’n klomp gemors by Eskom aankom. Dit het ’n aansienlik ongunstige impak op die stelsel gehad.”
Van der Rheede sê Agri SA is baie bekommerd oor wat nou in die afwesigheid van sterk leierskap by Eskom sal gebeur. “Ek kan my nie indink dat die situasie sal verbeter nie. Eskom is werklik nou op ’n afdraande pad.”
Hy sê dit sal nou noodsaaklik wees dat die sakesektor bymekaar kom en ’n streep in die sand trek. “Die ANC se politieke leierskap is besig om hierdie land oor die afgrond te stuur. Daar is tans ander agendas ter sprake. Dit sal mettertyd ontbloot word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.