
Ná 58 jaar as veeboer in die Karoo, is mnr. André Lund vas oortuig daarvan dat ’n mens winsgewend kan boer sonder om die grond se natuurlike kapitaal te vernietig.
Sy oplossing is ultra-hoëdruk-strookbeweiding. Met dié stelsel het hy nie net sy veebelading verdriedubbel nie, maar ook sy veld tot ’n vlak herstel wat die familieplaas Elandsfontein, naby Beaufort-Wes, nog nie ervaar het in die amper 100 jaar wat die Lund-familie daar boer nie.
Uit die pen van dié deurwinterde veeboer is daar nou ’n positiewe boodskap van groot hoop vir Suid-Afrika se veeboere in die vorm van ’n boek oor ultra-hoëdruk-strookbeweiding.
Resultate
Volgens Lund het sy navorsing gunstige resultate gelewer. “Veral om verlore potensiaal te herstel en produksievlakke op ’n volhoubare wyse te verhoog,” skryf hy.
“Of ons daarvan hou of nie – ultra-hoëdruk-strookbeweiding is die enigste manier waarop die tempo van agteruitgang in die huidige bestel gestuit kan word.”
“Daar is by my geen twyfel nie dat UHDSB veld kan herstel en verhoogde produksie teweeg kan bring deur die verlore potensiaal terug te wen.”
Bestellings vir Die wonder van UHDSB kan by Johan Terblanche geplaas word by tel. 021 406 4962, e-pos johan.terblanche@Media24.com of deur Landbouweekblad se aanlynwinkel. Die boek kos R120, posgeld uitgesluit.