
Mequatling Smokin’ Jo (op foto) het vir 'n hoogtepunt op mnr. Philip Barnard se Angus-stoetery Mequatling se 50ste bestaansjaarveiling gesorg. Hy het ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys vir ‘n swart Angusbul van R140 000 behaal. Die koper was mnr. Monty Chiepe van Botswana. Chiepe bestuur sy eie KI- en embrio-gerief in Gaborone, en is die voormalige voorsitter van Botswana se vleisbeesprodusente-organisasie.
Smokin’ Jo se vaar is HF Kodiak 5R en die semen is ingevoer vanaf Hamilton Farms naby Calgary in die deelstaat Alberta, Amerika. Kodiak se semen is só gesog dit behaal meer as R6 000 per strooitjie. Smokin’ Jo se moeder is Mequatling Lassie 9003. In groeitoetse het hy ‘n gemiddelde daaglikse gewigstoename van 136 behaal, plus ‘n voerdoeltreffendheid-indeks van 116.
Boonop is ál die diere wat op die veiling aangebied is, verkoop.
Altesame 46 rooi en swart bulle is teen gemiddeld R61 000 stuk verkoop, terwyl 47 rooi en swart koeie gemiddeld R31 000 stuk behaal het.
Die duurste koei, Mequatling Modern Mama (WB 11 319) is teen R90 000 aan RN Bouwer Farms, Paarl, verkoop.
Die veiling is deur SHM Afslaers aangebied en die afslaer was mnr. Andrew Miller.