
Steyn gaan einde Junie haar pos ontruim om meer tyd aan haar gesin te wy.
Luidens ’n brief van mnr. Nqaba Bhanga, die leier van die DA in Steyn se tuisprovinsie, die Oos-Kaap, asook inligting op die parlement se webwerf, het Steyn in 2000 haar loopbaan in die politiek begin as raadslid in die Gariep-munisipaliteit. In 2007 is sy verkies as die DA Oos-Kaap se provinsiale voorsitter, en in 2009 tot op hede het sy gedien as 'n DA-parlementslid.
“Annette het die party vir meer as twee termyne met onderskeiding verteenwoordig as die skaduminister van landbou. Ek het 'n diepe waardering vir die reusagtige rol wat Annette in beide die parlement en in ons provinsie vervul het. Ek wens Annette alles van die beste toe vir die volgende fase van haar lewe,” het Bhanga geskryf.
Luidens ’n verklaring deur die DA het Steyn met onderskeiding in die portefeulje landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gedien “waar sy noemenswaardige gevegte vir gemarginaliseerde boere gewen het”.
Mnr. John Steenhuizen, leier van die DA, het aan Landbouweekblad gesê dat Steyn ’n "ongelooflike reputasie" opgebou het om persoonlik plekke en mense in Suid-Afrika te besoek waar daar kwessies is wat onder haar portefeulje as skaduminister geval het.
“[…] As gevolg hiervan is [sy] in die boeregemeenskap diep gerespekteer. Sy was in die voorste linies in die stryd teen onteiening sonder vergoeding en het as boer self opregte passie en toewyding tot die landbou in Suid-Afrika getoon,” sê Steenhuisen.
Hy voeg by dat hy nie net vir Steyn as 'n bekwame en effektiewe parlementslid sal mis nie, maar ook as 'n lojale vriend en uitstekende kollega.
Steenhuisen wens Steyn alles van die beste toe in die nuwe hoofstuk van haar lewe.
Steyn het aan Landbouweekblad gesê dat sy van begin Julie af eers ’n broodnodige ruskans gaan neem op haar gesin se skaap-, lusern-, mielie- en vleisbeesplaas in die Oos-Kaap se distrik Venterstad. Haar voorneme daarna is om haar jarelange droom uit te leef om 'n klein onderneming te begin wat blomme en kruie produseer en verkoop.
“Ek bedank heeltemal uit die politiek. Ek dink nie dat mense die massiewe moeite en tyd wat nodig is om te doen wat ons doen ten volle verstaan nie. Ons gesinne trek dan gewoonlik aan die korste end. Ek wil nou net huis toe gaan om tyd saam met my gesin deur te bring,” sê sy.