Veeboere in die Karoo wat vroeër vanjaar groot verliese weens die voorkoms van slenkdalkoors gely het, sê hulle kry steeds nie bevredigende antwoorde van Onderstepoort nie.
Mnr. Dirk van Schalkwyk, voorsitter van die landbouvereniging Aberdeen, sê die lewende entstof wat verlede jaar gebruik is voordat Kloon 13 beskikbaar was, is ten duurste aangekoop en het nie eers ses maande lank weerstand gebied nie.
“Van Schalkwyk sê ’n afvaardiging van Bayer en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het lede van die landbouvereniging verlede week toegespreek. Van die sprekers het erken dat die lewende entstof teen die siekte nie meer lewenslange immuniteit bied nie, maar nou jaarliks toegedien moet word.
Daar is ook op die vergadering gesê dat die OBP elke klagte oor entstof moet ondersoek om sy registrasie vir die bereiding daarvan te behou. Dit blyk ook dat Kloon 13 nie op Angorabokke getoets is nie.
SA boere nie prioriteit
Van Schalkwyk beweer dat ’n verteenwoordiger van die OBP tydens ’n vergadering op Graaff- Reinet aan die veeartse genoem dat die Suid-Afrikaanse boere nie hul eerste voorrangsaak is nie, aangesien hulle meer produkte na die Midde-Ooste uitvoer as wat hulle binnelands verkoop.
Vroeëre bespiegelings dat die verbreking van die koueketting moontlik tot die ondoeltreffendheid van die entstof kon bygedra het, word glo nou nie meer as moontlike rede beskou nie.
Daar is onlangs op kongresse gevra dat ’n “koue”-plakker op elke bottel entstof aangebring moet word om boere gemoedsrus te gee.
29 Augustus 2011