Verlof om appèl aan te teken teen die Gelykheidshof se bevinding dat “Skiet die boer” haatspraak is, is aan die ANC en mnr. Julius Malema toegestaan.
Luidens ’n berig op News24.com is die party se versoek Donderdag (22 September 2011) in die Suid-Gautengse Hooggeregshof toegestaan.
Regter Colin Lamont het Malema verlede week skuldig bevind aan haatspraak weens sy gebruik van die lied, en hy het die sing van die lied in die openbaar of privaatheid verbied.
Die party het kort ná die bevinding aangedui dat hy teen die uitspraak wil appèlleer. Hy meen onder meer dat die bevinding nie uitvoerbaar is nie.
AfriForum is gereed
Intussen sê die burgerregte-organisasie AfriForum hy is gereed om die bevinding te verdedig. Mnr. Kallie Kriel, die hoofbestuurder, het kort ná die aanvanklike beslissing gesê hulle is gereed vir enige gebeurlikheid, hetsy om ’n appèlsaak te beveg of om diegene wat die lied moontlik steeds sing, te laat vervolg.
Die organisasie sê hy ná hy reeds twee sake, met kostebevele, teen Malema gewen het, is hy vol selfvertroue dat hy dit ’n derde keer in die Appèlhof en moontlik ’n vierde keer in die Grondwethof kan regkry.
“In die onwaarskynlike geval dat die Grondwethof uiteindelik sal beslis dat mense wél die reg het om Afrikaners honde te noem wat geskiet moet word – soos die lied se lirieke beskryf – sal AfriForum die saak verder by die Verenigde Nasies (VN) en ander internasionale forums voer.”
Mnr. Willie Spies, die organisasie se regsverteenwoordiger, sê sy versoek vir ’n kruisappèl in die saak is ook goedgekeur. Dit sal hom in staat stel om AfriForum se standpunte te verdedig mits hulle nie saamstem met van die bevindings in Lamont se beslissing nie.
Bron: News24.com
22 September 2011