
In die soveelste ronde tussen die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, me. Barbara Creecy, en die vlieghengelbedryfsliggaam Fosaf het die appèlhof vroeg in Februarie nóg ’n aansoek om toestemming tot appèl wat die minister gebring het, van die hand gewys.
Dit volg nadat regter AJ Vorster van die hooggeregshof in Gauteng verlede jaar haar aansoek om toestemming tot appèl van die hand gewys het.
In September 2021 het Vorster Fosaf gelyk gegee dat Creecy se departement nie die regte stappe gedoen het soos die wet vereis om sekere spesies (onder meer forel) tot indringers te verklaar nie. Hy het gevind dat die departement nie voldoende inligting beskikbaar gestel het nie en dat dit Suid-Afrikaners van hul reg op betekenisvolle deelname in die wetgewende proses ontneem het.
Fosaf sê die appèlhof se onlangse uitspraak bevestig wat die minister en haar departement weier om te aanvaar: dat ’n omgewingsreg ’n mensereg is en dat behoorlike konsultasie gedoen moet word nadat voldoende inligting aan die publiek verskaf is voordat aan omgewingswetgewing en regulasies verander kan word.
“Die departement sê onwilligheid om dit te respekteer beteken dat die meeste van Suid-Afrika se regulasies rondom biodiversiteit fatale foute bevat wat uitgedaag kan word. Dit geld die jongste regulasies oor uitheemse en indringerspesies, asook die nuwe regulasies oor bedreigde of beskermde diersoorte wat op 3 Februarie gepromulgeer is,” sê Fosaf in ’n verklaring op sy webwerf.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.