
Die wêreld van biotegnologie toor nie net met mielies en soja nie – in Kanada is genetika wat appels keer om te verbruin as dit gekneus of gesny word.
’n Kanadese bio-tegnologie maatskappy, Okanagan Specialty Fruits Inc, het ’n tegnologie ontwikkel wat op bestaande appel-kultivars ingewerk kan word en wat keer dat gesnyde, gekneusde of gebyte appels verbruin.
Volgens die stigter en voorsitter van Okanagan Specialty Fruit, mnr. Neal Carter, is hulle trots op die feit dat hulle biotegnologie kon aanwend om vermorsing van voedsel te beperk. “Deur bloot die ensiem Polifenol Oksidase, wat vir verbruining in appels verantwoordelik is, deur biotegnologie onaktief te maak, kon ons die Arctic® appel se unieke eienskappe vaslê.
In uitgesoekte supermarkte
“Tans is ons fokus op die kommersiële bekendstelling van Arctic® appels en ons verwag dat dit ná die herfs-oes in Amerika in uitgesoekte supermarkte sal verskyn. Die aanvanklike produk van Arctic® wat beskikbaar sal wees, is ’n sakkie met vars gesnyde appelstukke, sodat dit die ideale manier is om die unieke eienskappe van Arctic® appels te benut.
Tans is daar ’n Arctic® Golden en ’n Arctic® Grannie beskikbaar en volgende in die ry is die Arctic® Fuji en daarna die Arctic® Gala. “Ons glo dat die vars gesnyde Arctic® appels aan verbruikers ’n beter eet-ervaring sal bring met meer gerief en dus ’n premie in die supermark sal verdien. Dit is egter ’n ander mark as heel, vars appels en sal dus nie met die konvensionele produk meeding in die supermark nie,” verduidelik Carter.
“Hoewel Suid-Afrika verseker oorweeg sal word as ’n bestemming vir die Arctic® genetika, is daar tans nie ’n tydlyn om regulatoriese goedkeuring daar by julle te kry nie,” het Carter aan Landbouweekblad gesê.
Vir meer inligting, besoek www.arcticapples.com, of www.okspecialtyfruits.com, of e-pos na: info@okspecialtyfruits.com.