April bring prysskokke wat boere, wat reeds onder droogtes gebuk gaan, hard gaan slaan, sê mnr. Dawie Maree, senior ekonoom by Agri SA.
Maree sê die dieselprysstyging van 51c per liter gaan die landbousektor se produksiekoste jaarliks met R510 miljoen opstoot.
Die Departement van Energie het verlede week aangekondig dat die prys van diesel (Woensdag, 4 April 2012) met tussen 51c en 53c per liter gaan styg. Terselfdertyd sal ’n liter petrol 71c duurder wees. Die stygings sal die prys van ’n liter diesel in Gauteng op R10,88 te staan bring, terwyl petrol R11,94 per liter in Gauteng sal kos.
Die stygings word toegeskryf aan ’n styging in die internasionale prys van olie. Dit is ook die gevolg van verhogings in onder meer die brandstofheffing en die padongelukkefondsheffing.
75% styging
Volgens die departement se mediaverklaring het ’n liter 95-oktaan petrol in Desember 2008 in Gauteng R7,35 gekos. Dit het dus sedert dié tyd met sowat 61% gestyg. ’n Liter diesel het in Desember 2008 per liter R8,22 gekos. Diesel se prys het sedertdien met sowat 75% gestyg.
Maree sê verhoogde elektisiteitspryse gaan boere se sakke verder ruk. Die verhoging wat met ingang 1 April 2012 van krag is, beteken ’n effektiewe verhoging van sowat 15% in boere se kragkoste.
“Veral besproeiingsboere gaan hard deur dié stygings getref word, want brandstof en krag is ’n bespoeiingsboer se belangrikste produksiekoste-items.”
Maree sê bykomend tot dié koste, hou almal ook hul asem op vir die implementering van die e-tolstelsel in Gauteng teen 31 April 2012. “Dit gaan vir seker boere wat groente en vars produkte moet lewer, se sakke hard slaan.”
2 April 2012