Die Department van Arbeid se uitsprake dat Vrystaatse plaaswerkers in haglike toestande woon en werk, is eensydig.
Vrystaat Landbou het in sy reaksie ná die besoek van Arbeidsminister Mildred Oliphant aan 13 plase in die Oos-Vrystaat gesê daar is slegs op foute gefokus en sy het nie die gunstige aspekte in haar verklaring uitgewys nie.
Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, sê die landbougemeenskap begin egter gewoond raak aan die politieke retoriek en die verwagting is dat eise mettertyd realisties sal raak. Vermeulen sê geen inspeksies is deur die arbeidsafvaardiging by opkomende boere gedoen nie.
“En wanneer staatshulp uitgedeel word, is dit dié deel van die landbouers wat bevoordeel word. Arbeidsinspeksies by blanke kommersiële boere skep die beeld dat werkgewers hulle arbeiders uitbuit, waardeur die landbougemeenskap gepolariseer word.”
Praktiese aspekte
Vermeulen sê daar is ’n paar praktiese aspekte ten opsigte van arbeidswetgewing wat aandag moet kry. Een aspek is dat die departement in die afwesigheid van die grondeienaar inspeksies uitvoer.
In haar verklaring het me. Oliphant haar skok uitgespreek oor die omstandighede van plaaswerkers op een bepaalde eiendom. Sy het onderneem om met ander departemente te skakel in ’n poging om beter behuising vir die mense op die plaas te bewerkstellig.
Sy was ook besorg oor die feit dat die nodige administratiewe reëlings nie vir werkers uit die naburige Lesotho getref word nie. Ander vergrype wat die departement in sy inspeksie in die Vrystaat teëgekom het, hou verband met werkers wat nie van beskermende oorklere voorsien word nie, veral wanneer hulle met gevaarlike middels werk.
Die afvaardiging was ook besorg oor watervoorsiening vir plaaswerkers, opleiding vir werkers wat met sekere masjinerie werk, asook die nie-nakoming van algemene regulasies vir gesondheid en veiligheid van werkers.
24 Februarie 2012