Diegene wat nuwe regulasies rondom arbeidswette teenstaan moet hulself regmaak vir ‘n geveg, sê mnr. Zwelinzima Vavi, hoof van Cosatu.
Vavi sê in ‘n berig op Business Day hy beoog om volgende jaar te verseker dat ‘n verbod op arbeidsmakelaars ingestel word. Hy meen sy aanval op makelaars is nie in teenstand met die Departement van Arbeid se nuwe konsepwetgewing rondom arbeid nie. Die nuwe wette sluit nie ‘n algehele verbod op makelaars in nie.
Klik hier vir meer duidelikheid oor die betrokke wette.
Volgens mnr. Thembinkosi Mkalipi, die Departement van Arbeid se hoofdirekteur vir arbeidsverhoudinge, sê die nuwe wetgewing beperk slegs arbeidsmakelaars tot die werwing en plasing van werkers.
Vavi sê hy het geen probleem met gereguleerde arbeidsmakelary nie. “Ons het ‘n probleem wanneer iemand vir 20 jaar ‘n tydelike werker is en ons het nie die verhouding tussen dié werker, en die persoon wat hom uit ‘n die kattebak van ‘n kar aangestel het, gereguleer nie,” sê hy.
“Tydelike werkers sal altyd ‘n deel van die ekonomie wees. Ons baklei nie teen werkgewers wat weens hul eie bedryfsredes tydelike werkers benodig nie, soos diegene op plase en in die vervaardigingsbedryf.”
Die nuwe arbeidswette ontlok luidens ‘n berig op Fin24.com sterk teenstand en Mkalipi meen dit kan maande wees voordat dit in die Parlement voorgelê sal word. Volgens ontleders druis die benadering om ‘n pos as permanent te ag tensy ‘n werkgewer kan motiveer waarom dit ‘n tydelike pos is, teen internasionale arbeidstendense in.
“Ons dink nie ons gaan mense ontmoedig om werkers aan te stel nie,” sê Mkalipi.
Lees ook:
Cosatu: Ommekeer oor arbeidsmakelary?
23 Desember 2010