Die konsepwysigings aan arbeidswetgewing wat deur die kabinet goedgekeur is, veroorsaak groot kommer binne die landbou.
Luidens ’n verklaring sê Agri SA dit is “uiters frustrerend” dat die wysigings goedgekeur is ten spyte van onvoltooide onderhandelings daaroor binne die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac).
“Terwyl Agri SA as deel van die sakegemeenskap in goedertrou aan die proses deelgeneem het om werkbare oplossings vir komplekse kwessies te vind, blyk dit uit die gepubliseerde konsepwetgewing dat hierdie bydraes vanweë politieke oorwegings bloot van die tafel gevee is,” aldus mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, het onlangs aangekondig dat die wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes deur die kabinet goedgekeur is.
Veranderinge
Möller sê groot kommer bestaan oor spesifieke veranderinge, wat ongunstig op werkskepping in die sektor kan inwerk. Hulle sluit in:
- Die feit dat die Minister erkenning aan ’n vakbond kan gee wat impliseer dat vakbonde makliker toegang tot plase sal kry en geregtig sal wees op aftrekorders vir lidmaatskapsgeld ten spyte van ’n lae vlak van verteenwoordiging in die bedryf.
- Die wysigings aan die Minister die magte gee om verhogings vas te stel.
- Die Minister metodes vir die vasstelling van die waarde van huurarbeiders se woon- en gebruiksreg vir die Huurarbeiderswet se doeleindes sal kan bepaal.
- Buigsame arbeidsreëlings beperk sal kan word deurdat die Minister die praktyke van sub-kontraktering, arbeidsmakelary en uitkontraktering sal kan verbied of reguleer.
Volgens Möller stem die sakegemeenskap binne Besigheidseenheid SA (Busa) en Nedlac saam dat ’n objektiewe impak-ontleding van die voorgestelde wetgewing gedoen moet word, voor dit deur die parlementêre proses gevoer word.
Möller sê die wetgewing kan die Nasionale Ontwikkelingsplan se visie vir die sektor in die wiele ry.
“Dié plan het besondere verwagtinge oor die werkskeppingspotensiaal van die landbou, maar met die veronderstelling dat dit in ’n vriendelike beleidsomgewing kan geskied. Die konsep-wetgewing dra ongelukkig geensins by om vertroue by landbouers vir groter indiensname te skep nie.”
28 Maart 2012