Drie spesifieke wysigings aan die arbeidswet is ‘n doring in georganiseerde landbou se vlees, en hulle hoop vir oplossings.
Me. Elize van der Westhuizen, Agri SA se menslike hulpbronbestuurder, sê eerstens is hulle onrustig oor die wysiging dat arbeidsmakelaars nie meer onafhanklik werkers onder hulle mag hê nie.
‘n Arbeidsmakelaar mag slegs werkers onder hom hê as die makelaar saam met die werkgewer werksooreenkomste aangaan.
Kontrakreëlings
Van der Westhuizen sê ‘n tweede doring is oor voorgestelde veranderings aan kontrakreëlings, en dat veral seisoenwerkers nie net tydelike kontrakte mag kry nie. “Dié kontrakte moet nou dieselfde voordele as dié van voltydse werkers, soos pensioen- en mediese voordele, insluit vir iemand wat drie of vier maande per maand op ‘n plaas werk.”
In die wysigings word die bewoording van die persoon wat in diens geneem word ook verander, en dit gaan groot verwarring veroorsaak. “Hulle karring aan die bewoording van byvoorbeeld ‘kinderarbeid’ wat na ‘werk’ verander moet word, maar volgens die definisie sluit ‘werk’ ook dagtake in soos om ‘n vloer te vee. Dié woorde en definisies gaan dan ook van wet tot wet verskil, wat groot kopsere tot gevolg gaan hê.”
Inspekteurs en vakbondlede
Van der Westhuizen sê nog ‘n kwessie wat reeds implikasies veroorsaak, en kan veroorsaak, is die feit dat wanneer ‘n arbeidsinspekteur ‘n plaas vir ‘n roetine-ondersoek besoek, ‘n lid of lede van ‘n vakbond hulle vergesel.
Die boer en inspekteur beweeg dan oor die plaas, terwyl die vakbondlede op die plaas rondbeweeg en lede probeer werf. “Dít is heeltemal buite protokol, en daar word nou voorgestel dat dit in die wet ingeskryf word dat vakbondlede wye toegang tot enige werksplek moet hê!”
Volgens Van der Westhuizen sukkel hy al vir ‘n geruime tyd om met me. Mildred Oliphant, die betrokke minister, asook die departementele beamptes te vergader, of om enige terugvoer van hulle te kry oor klagtes en kwessies.
Sy sê ten opsigte van die wetgewing, plaas hulle hul kwessies as lede van Nedlac en Busa op die tafel.
“Ons het al in ons taakgroepe vergader, en die volgende prosesreëlings word volgende week verwag. Die twee groeperings het ook al aangedui dat ons tot einde Februarie tyd gaan nodig hê vir voorbereidings voordat onderhandelinge kan begin. Die departement wil druk om die konsep teen Junie deurgevoer te kry, maar dit gaan nie haalbaar wees nie.”
28 Januarie 2011