
Vir die volgende vyf jaar gaan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op die verligting van armoede en werkskepping fokus deur die radikale transformasie van dié sektore.
Dit was die algemene boodskap van mnr. Senzeni Zokwana, minister van Landbou, Bosbou en Visserye, in sy begrotingstoespraak.
Volgens hom sal veral veeboere in arm gemeenskappe by ondersteuning van die departement baatvind. Dit sal gebeur deur veeverbeteringskemas en toegang tot beter teelmateriaal, mobiele veeartsklinieke en 'n verskuiwing van Onderstepoort Biologiese Produkte, 'n staatsmaatskappy, se fokus na ontluikende boere.
Zokwana sê hulle gaan ook die aanbevelings van die evaluasie wat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (World Organisation for Animal Health (OIE) oor die prestasie van veeartsenykundige diens gedoen het, inspan om hul steun op die gebied te versterk.
Planne vir steun aan veeboere was ook die enigste wat in detail beskryf is, en sluit die verpligte gemeenskapsdiens deur nuut gekwalifiseerde veeartse van die 2015/'16-boekjaar af in, en ook die verbetering en herstel van diereklinieke, dipbakke en dierehanteringsgeriewe. Hy voorsien ook dat sekuriteit by Suid-Afrika se grense opgeknap word om die plaaslike veestapel teen siektes te beskerm. Soos by vorige geleenthede, het Zokwana hul toewyding tot die verbetering van plaasveiligheid en verlaging van veediefstal beklemtoon.
Net meer as R1,86 miljard van die totale landboubegroting van R6,7 miljard is aan die omvattende steunprogram vir landbou (CASP) toegedeel. Zokwana het egter gesê dat daar 'n ondersoek aan die gang is om die impak van die program te monitor en sy benadering te verander. Aan die Ilima/Letsema-program is R460 miljoen toegeken en R67,8 miljoen vir LandCare.
Zokwana het gesê hoewel dit verblydend is dat mense wat honger ly, tussen 2002 en 2013 met 16% verminder het, te veel daarvan nog hoofsaaklik aan maatskaplike toelaes toegeskryf kan word. "Ons moet daarna streef dat die landbou- en voedselekonomie al hoe meer bydra om voedselsekerheid te verbeter."