
Voedselsekuriteit in Suid-Afrika is slegs moontlik indien voedsel volhoubaar winsgewend verbou kan word.
Dr. Kobus Laubscher, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, sê die primêre produsent is van ’n geïntegreerde waardeketting afhanklik waarvolgens welvaart in verhouding deur die onderskeie delnemers gedeel kan word.
“Indien gunstige makro-ekonomiese beleid nie bewerkstelling word om winsgewende produksie te bewerkstellig nie, is voedselsekerheid nie moontlik nie.”
Laubscher het op die jaarvergadering van SA Stamboek 'n pleidooi gelewer dat die Suid-Afrikaanse produsent toegelaat word om winsgewend te boer. Dit sal op sy beurt bydra tot volhoubare landelike ontwikkeling.
Volgens hom het die Regering die afgelope weke ’n gesindheidsverandering teenoor die landbou ondergaan. "Dit is egter die produsent se plig om druk op grondvlak en in sy gemeenskap toe te pas om die ruimte vir sy volhoubare produksie te bewerkstellig," sê hy.
Volgens hom moet die Regering nie as die vyand van die landbou beskou moet word nie, maar indien die Regering die rol van mededinger vertolk, moet produsente meer doeltreffend meeding om hulle aandeel van die beskikbare skaars hulpbronne te bekom.
Volgens Laubscher is daar 'n geraamde 12 miljoen Suid-Afrikaners wat nie weet waar hulle volgende maaltyd vandaan kom nie. Hy sê Suid-Afrika is 'n land van teenstrydighede, waar chroniese hongersnood, maar ook vetsugtigheid onder sy bevolking voorkom.