
Vier veeartsenystudente gaan Novembermaand op ’n 777 km-perderit – van Koffiefontein tot Mosselbaai – om Bybels uit te deel en die boeregemeenskap te bemoedig.
“Die doel is om Bybels te versprei, maar ook met mense te gesels,” verduidelik mnr. Gert Erasmus, een van die ruiters. “Ons teiken die boeregemeenskap omdat dit dikwels die afgeleë mense is wat dit die meeste nodig het.”
Van links na regs: Mnre. Hans-Jurie Moolman, Marais Cilliers, Gert Erasmus en Jan-Paul Lubbinge. Foto: Verskaf
Erasmus en mnre. Marais Cilliers en Jan-Paul Lubbinge is ou hande in die perdebedryf. Cilliers gaan die tog aanpak op Zandaeo, ’n Arabier-reun, Erasmus op Braveheart, ’n Boerperd-reun wat hy self geteel het, en Lubbinge op Zadok, ’n Arabier-reun. Die vierde lid van die span is mnr. Hans-Jurie Moolman. “Ek ry af en toe perd; meer af as toe. Daarom het ek dit goedgedink om die bestuurder te wees.”
Moolman gaan Bybels, tente, kos en toerusting saamry, en seker maak die perde kry genoeg water langs die pad. Hy gaan ook ’n perdewaentjie vir noodgevalle saamsleep. Die rit verg beplanning, veral omdat al vier heeltyds studeer. “Tydsbestuur is baie belangrik,” verduidelik Cilliers. “Ek stel my skedule op om genoeg tyd te maak vir my studies, asook vir die beplanning en die perde se voorbereiding.”
“Ons studies help baie met die beplanning en voorbereiding vir die uitdagings wat ons moontlik met die perde kan ondervind,” sê Lubbinge. “Deur die Here se genade kan ek veeartsenykunde swot, en ek is opgewonde om Sy Woord te versprei op ’n wyse waarvoor ek ’n passie het.”
Hul beoogde roete loop sover moontlik op grondpaaie of langs kleiner teerpaaie. “Die afstand wat ons gaan aflê – 777km – is simbolies, en verteenwoordig die absolute volmaaktheid van God,” verduidelik Erasmus. “Ons het die meerderheid van die roete al met ’n voertuig afgelê, om ’n beter prentjie van die roete te kry en met ’n paar boere te gesels.
“Daar is reeds ’n paar boere wat bereid is dat ons by hulle kan oornag. Verder sal ons rus en oornag soos die pad ons lei, met die toestemming van die boer op wie se grond ons is, natuurlik. “Ons beoog om minstens 500 Bybels vooraf in te samel, maar daar sal nooit te veel wees nie!”
Enige iemand wat belangstel om betrokke te raak, hetsy deur raad, gebed of donasies, of net meer wil uitvind, is welkom om die lede van dié projek, HIS Ride, te kontak. E-pos: hisride4sa@gmail.com, Facebook-blad: HIS Ride, Instagram-profiel: @hisride.