Astral Foods het op die rug van stewige finansiële resultate aangekondig dat hy volgende jaar ’n nuwe voermeule gaan oprig.
Die genoteerde hoenderreus het sy bedryfswins met 15% verhoog van R585 miljoen (2010) tot R675 miljoen, terwyl sy netto skuld met 70% gedelg is. Die netto skuld staan tans op R39 miljoen (2010: R129 miljoen).
Dividend van R5,05
Dít beteken dat die maatskappy se skuld/ekwiteitsverhouding tans op 3% staan (2010:9%). ’n Finale dividend van R5,05 is verklaar, wat Astral se finale dividend per aandeel op R8,10 te staan bring. Dit is 7% hoër as verlede jaar se totale dividend per aandeel (R7,60).
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof, sê die deurlopende stewige finansiële resultaat wat die geïntegreerde hoendermaatskappy die afgelope paar jaar kon handhaaf, is grootliks aan harde werk op grondvlak te danke.
“Ons het daarop gekonsentreer om voer beter te verbruik as ons mededingers en terselfdertyd ons aandeelhouers se dividende te beskerm en skuldvlakke so laag as moontlik te hou.
"Ons het onsself in ’n posisie in geboer waar ons nou opsies het. En daar is tans ’n paar slim oornames in die mark wat ons moontlik in die toekoms kan bekom.”
Nuwe voermeule
Die maatskappy se volgende groot kapitaaluitgawe sal die oprigting van ’n nuwe voermeule wees. Dié meule sal tussen R110 miljoen en R120 miljoen kos en behoort net meer as 15 000 ton voer per maand te vervaardig.
Schutte sê dié meule sal opgerig word om die aankope te vervang wat tans by Afgri gemaak word. Volgens die voorwaardes van die destydse oorname van Early Bird by Afgri moes Astral vir ’n dekade al hul voer by dié landboumaatskappy koop. Die ooreenkoms eindig egter in 2014.
“Ons kon seker Afgri se meule oorgekoop het, maar die voordeel om dit self te bou is dat ons kan kies waar die meule moet wees.”
Schutte sê die meule sal meestal gemeganiseerd wees, wat beteken dat slegs 16 persone in diens geneem sal word. “Dit is sleg vir werkskepping, maar koste het ons gedwing om daardie rigting in te slaan.”
15 November 2011