
Eskom se toenemende beurtkrag noodsaak die geïntegreerde braaihoenderprodusent Astral Foods om byna R70 miljoen aan kragopwekkers te bestee om slagplase van deurlopende krag te voorsien.
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof, het dié kapitaalbesteding as “wrok-aankope” beskryf in ’n onderhoud oor die maatskappy se resultate vir die halfjaar tot einde Maart vanjaar, waarin die maatskappy ondanks groot stygings in voer- en energiekoste daarin geslaag het om stewige groei in inkomste en bedryfswins te behaal.
“Dink net wat ’n mens met R70 miljoen kon gedoen het. Dit kon vir uitbreiding en werkskepping gebruik word. Die vingers moet hier gewys word na almal wat met kragvoorsiening te doene het. Dít is wat Suid-Afrikaners nou moet doen om ’n onderneming te bedryf. Boonop is brandstof weens die oorlog in Oekraïne nie goedkoop nie.”
Sonkrag kan ingespan word vir hoender- of broeihuise, maar is nie voldoende vir slagplase se vereistes nie. Sulke slagplase word 24 uur per dag bedryf. Schutte sê Astral het die som gemaak dat, sou die land deurlopend in die winter fase twee-beurtkrag hê, dit die maatskappy R430 000 per skof aan brandstof vir kragopwekkers sal kos. Hoenders word in 10 skofte per week geslag.
Benewens kragonderbrekings ondervind Astral stééds gebrekkige padinfrastruktuur en waterleweringsdienste in die Lekwa- munisipale gebied (Standerton), ondanks ’n hofbevel waarvolgens ’n administrateur sowat ’n jaar gelede by die munisipaliteit moes ingryp.
“Ons is teleurgesteld. Daar was baie mooi planne, maar daar het nie veel gebeur nie. Daar was klein verbeterings, soos beter invordering (van dienstegeld), maar die munisipaliteit kom steeds nie sy nuwe ooreenkoms met Eskom (vir betaling vir kragverskaffing) na nie.”
Die administrateur se termyn eindig binnekort en Astral oorweeg dit om weer die hof te nader omdat die vorige bevel nie nagekom is nie.
“Ons is intussen in die proses om amper heeltemal onafhanklik (van munisipale dienste) te word. Ons wil direk water uit die Vaalrivier kry, maar wag nog vir die finale waterlisensie.” Schutte is gefrustreerd met hoe die nasionale departement van water en sanitasie met die lisensie-aansoek se verwerking sloer.
Meer hoendervleis verkoop
Ondanks ’n styging van sowat 17% in voerkoste en 16% in energiekoste in die ses maande tot einde Maart, vergeleke met ’n jaar gelede, het die groep se inkomste met 26,5% gestyg tot R9,4 miljard, hoofsaaklik danksy ’n styging in verkope van braaihoendervleis.
Die maatskappy het die afgelope twee jaar baie belê in die uitbreiding van sy Festive-verwerkingskapasiteit in Olifantsfontein, Gauteng.
In die jongste halfjaar het Astral 5,9 miljoen braaihoenders per week geslag, 400 000 meer per week danksy die uitbreidings. Teen April 2023 sal nóg 400 000 meer per week geslag word.
Die maatskappy brei só sy totale braaihoenderproduksie met 16% uit en skep ook nuwe werkgeleenthede. Dit was ’n belofte aan mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, as deel van die teikens in die pluimveemeesterplan.
Sy netto marge vir braaihoenderproduksie was in die halfjaar 4,7% vergeleke met -0,2% in die halfjaar tot einde Maart 2021. “Dit is eintlik nog maar ’n baie dun marge vir ’n onderneming wat aan ’n klomp internasionale gebeure blootgestel is en is ook onder ons gemiddelde vir die afgelope 10 jaar.”
Invoer van braaihoendervleis was in die ses maande 6% laer as in die vergelykende tydperk, maar volgens Schutte op 24% van plaaslike verbruik steeds op ’n hoë vlak.
Uitbreiding in Zambië
Astral het sy belang in National Chicks Swaziland verkoop en is besig om dieselfde met sy belang in voer en braaihoender in Mosambiek te doen.
In Zambië het sy voer- en dagoudkuikenbedrywighede se inkomste met 47,5% gestyg. Dit was danksy groter produksie en verkope, maar ook die wisselkoers. Astral beoog om in die volgende jaar of twee sy geriewe daar teen sowat R100 miljoen uit te brei, verbeter en vernuwe, wat ook geriewe vir braaihoenders sal insluit.