
Meer as 40 sake-ondernemings in die munisipale gebied van Lekwa (Standerton) het ondersteunende verklarings aan Astral voorsien om hom te help in sy saak teen Eskom, het Astral in 'n verklaring gesê.
Eskom het gedreig om, weens die Lekwa-owerheid se wanbetaling, die krag na die gebied al middel Januarie af te sny, maar het dit weens Astral se aansoek om 'n interdik tot 28 Februarie uitgestel.
Astral wil keer dat krag na sy Goldi- en Meadow Feeds-bedrywighede onderbreek word.
'Eskom stem saam'
“Eskom stem in sy beantwoordende verklaring, wat op 2 Februarie geliasseer is, saam dat Astral en COFCO Agri (wat 'n soja- en saadverwerkingsaanleg in Standerton het) gesamentlik 60% van Lekwa se elektrisiteitskliënte verteenwoordig,” sê mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral.
Die maatskappy het met verteenwoordigers van die munisipaliteit, die provinsiale regering en ander belanghebbendes vergader om die naderende krisis af te weer.
Schutte verwelkom die groot steun wat hulle van ander sake-ondernemings gekry het. Hy sê as Eskom daarop aandring om opbetaalde kraggebruikers te penaliseer, is dit tyd vir die gemeenskap, sake-ondernemings en werkers om gesamentlik 'n saak te stel om te wys hoe belangrik vervaardigingsmaatskappye in die plaaslike ekonomie is en dat ononderbroke kragvoorsiening 'n absolute vereiste is, veral in ondernemings wat lewende hawe hanteer.
Astral se aansoek om 'n interdik teen Eskom word op 21 een 22 Februarie in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.