
Die genoteerde pluimveeprodusent Astral het sy voermeule op 17 Julie amptelik geopen nadat bouwerk in Oktober 2012 begin het en dit in Junie vanjaar in gebruik geneem is. Die voermeule sal sowat 40 000 ton pluimveevoer per maand kan vervaardig.
Mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte van Astral, sê die projek ter waarde van R200 miljoen getuig van die maatskappy se langtermynstrategie om ’n geïntegreerde laekoste-pluimveeprodusent te wees.
“ ’n Belegging in nuwe voermeuletegnologie maak dit vir Astral moontlik om sy sakemodel te ondersteun, veral omdat voer sowat 65% van die totale produksiekoste van ’n braaihoender verteenwoordig,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Die belegging wys volgens hom op Astral se verbintenis tot Suid-Afrika, werkskepping en die stimulering van primêre landbou in die streek. Die meule het ’n bykomende 50 werkgeleenthede tot Astral se huidige sowat 3 000 in Standerton geskep.
Schutte sê dit was vir Astral belangrik om die jongste tegnologie in te span en die belegging op die regte geografiese plek te doen.
Die Lekwa-munisipaliteit en die groter Standerdon-gebied is die spilpunt van Goldi/Earlybird, Astral se pluimveeproduksie- en verwerkingsonderneming.
Voorts het die omgewing volgens Schutte die hoogste mielie- en sojaopbrengs en die Noble Resources-groep se groot belegging in ’n sojapersaanleg langs Astral se voermeule wys op die toekomstige potensiaal vir die ontwikkeling van sojaproduksie hier.
Mnr. Gary Arnold, Astral se direkteur vir sakeontwikkeling, sê die meule kan 80 ton voer per uur vervaardig en sal pluimveevoer aan Goldi voorsien, wat 1,9 miljoen hoenders per week verwerk.
Schutte sê die meule sal bydra tot beter doeltreffendheid en die beheer van koste, wat baie belangrik is in die huidige ekonomies klimaat.
Meadow Feeds, ’n volfiliaal van Astral, vervaardig en versprei landwyd ’n wye reeks dierevoer deur sy voermeulens in Randfontein, Delmas, Paarl, Port Elizabeth, Pietermaritzburg en Ladismith.