
Eskom het sy beplande onderbrekings van kraglewering aan die Lekwa-munisipaliteit (Standerton), waar Astral Foods groot bedrywighede het, van 23 Januarie tot 28 Februarie uitgestel.
Dit volg nadat Astral, wat vroeër gesê het die kragonderbrekings sal katastrofiese gevolge hê, op 16 Januarie 'n aansoek om 'n dringende interdik in die hooggeregshof in Pretoria gebring het.
Astral het op 19 Januarie in 'n verklaring gesê Eskom het sy beoogde kragonderbrekings uitgestel sodat die verskeie hofaansoeke hieroor teen hom op 21 en 22 Februarie aangehoor kan word.
'Krisis vir eers afgeweer'
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het gesê hoewel die onmiddellike krisis afgeweer is, verander dit nie aan die feit dat Lekwa klaarblyklik nie in staat is om sy verpligting om elektrisiteit aan die streek te verskaf, te bestuur en administreer nie.
“In ons opinie kan ons net aflei dat Lekwa 'n mislukte regeringstruktuur is wat nie in staat is om sy finansiële verpligtinge na te kom nie. Ons versoek dringende nasionale regeringsingryping om 'n heeltydse oplossing te vind sodat Astral, ander ondernemings en die wyer gemeenskap hulself nie op 28 Februarie in 'n rampspoedige posisie bevind nie.”
Schutte het soos in 'n vroeëre verklaring herhaal dat die kragonderbrekings en veral die dreigement dat die krag heeltemal afgesny sal word, rampspoedige gevolge vir Astral sal meebring.
Sal regstappe doen
“Ons sal regstappe doen om ons sake te beskerm, omdat ons eenvoudig nie ons bedrywighede onderhewig kan maak aan die munisipaliteit se onverskillige benadering tot betaling nie.
“Hierdie gereelde en herhaalde dreigemente van kragonderbrekings is uiters ontwrigtend en noodsaak dat hulpbronne afgestaan moet word om aan elke krisis aandag te gee.”
Schutte sê die dreigement kan bydra tot beleggingsonsekerheid in die land en toekomstige kredietgraderings beïnvloed.