
Kragtens 'n hofbeslissing wat hoop kan bring vir landbou-ondernemings in wankelende plattelandse munisipaliteite, gaan die pluimveeprodusent Astral Foods voortaan sy kragrekening regstreeks aan Eskom betaal.
Dit volg nadat Astral Eskom vroeër vanjaar hof toe gesleep het toe die kragvoorsiener gedreig het om, weens Lekwa se versuim om verbruikers se geld vir kragvoorsiening aan Eskom oor te betaal, beplande kragonderbrekings na die gebied in te stel.
Astral het reeds in Februarie vanjaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria 'n tussentydse interdik gekry om dit te keer. Die hoofhofaansoek is op 2 en 3 Mei aangehoor.
Eskom sal nie krag onderbreek
Die twee partye het volgens 'n verklaring van Astral ooreengekom dat Eskom nie Standerton se kragvoorsiening sal onderbreek soos wat hy vroeër gedreig het nie, en wat verwoestende gevolge vir Astral se bedrywighede sou hê.
Die ooreenkoms is as 'n bevel van die hof bekragtig.
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het gesê hy is bly oor die oorwinning, omdat dit Astral se bedryfsbelange in die streek heeltyds beskerm.
Die hof het ook beslis dat Eskom Astral se regskoste moet betaal, ingesluit dié van die vroeëre aansoek om 'n tussentydse bevel.
Permanente oplossing
“Ons is tevrede dat 'n permanente oplossing verkry is om onsekerheid rondom Eskom se dreigemente oor beplande kragonderbrekings uit te wis,” het Schutte gesê.
Astral sê hy gaan nou sy aandag op alle staatsinstansies toespits, insluitend die Lekwa-munisipaliteit, om hul grondwetlike pligte vir die voorsiening van krag en water na te kom, insluitend dat alle verwante infrastruktuur behoorlik onderhou moet word.