
Australië het vandeesweek sy beskermingsmaatreëls op internasionale lughawens verhoog om dié aansteeklike siekte uit die land te hou, ná ’n uitbreking van bek-en-klouseer sedert Mei in Indonesië woed.
Daarvolgens moet reisigers wat van Indonesië reis en die land binnekom, oor saniteringsvoetmatte met sitroensuur loop om hul skoene te ontsmet, met die matte wat binne enkele dae by die Cairns- en Darwin- lughawens geplaas sal word.
Bek-en-klouseervirusdeeltjies is vandeesweek in een voorval by die Adelaide-lughawe gevind in onverklaarde beesvleisprodukte wat deur ’n passasier van Indonesië af ingebring is, berig ABC.net.
In nog ’n voorval is virusdeeltjies van bek-en-klouseer én Afrika-varkpes in ingevoerde vleis in winkels in Melbourne gevind. Die bek-en klouseervirusdeeltjies is in varkprodukte wat van China ingevoer is, gevind. Lees hier meer.
Virusdeeltjies is ook in 2019 in ingevoerde vleisprodukte gevind, maar dit is die eerste keer dat die deeltjies in vleis in ’n supermark of kleinhandelswinkel in Australië gevind is.
Die virusdeeltjies is nie-lewend en nie aansteeklik nie, wat beteken die siekte word nie tans in Australië aangemeld nie.
Daar word gereken dat die direkte ekonomiese impak van die siekte, indien dit in Australië sou uitbreek, ongeveer Aus. $80 miljard (R942 miljard) sal beloop. Die siekte is laas in die 1800’s in Australië aangemeld.
Volgens die Australiese departement van landbou, visserye en bosbou is die kans die grootste dat die siekte die land deur besmette, onwettige vleis kan binnekom. Daar word geglo dat die verwoestende uitbreking van bek-en-klouseer in Brittanje in 2001 veroorsaak is deur besmette vleis wat onbewustelik vir varke gevoer is.
Indonesië het in Mei vanjaar ’n uitbreking van die siekte in die land aangekondig. Volgens Reuters is daar meer as 317 000 diere in 21 Indonesiese provinsies wat met bek-en-klouseer besmet is, met meer as 3 400 diere wat al van kant gemaak is.
Australië voer verskeie diereprodukte daarvandaan in, en volgens die Australiese departement van landbou is verskeie invoerpermitte sedertdien hersien. Die land staan ook vir Indonesië, en ander nabygeleë lande waar die siekte tans voorkom, by om die siekte te bekamp.