
Australiese melk- en vleisboere kan groot voordeel trek uit 'n vryehandelsooreenkoms tussen hul regering en China s’n.
Alan Harman berig dat die ooreenkoms, wat albei lande onderneem het om aanstaande jaar te teken, sal Australiese sake-ondernemings ongekende toegang tot die wêreld se tweede grootste ekonomie gee.
Die handel tussen die twee lande bedra R1 454 miljard en die ooreenkoms sal tariewe verlaag en handelsversperrings uit die weg ruim.
Meer as 85% van Australiese uitvoergoedere sal China aanvanklik tariefvry kan binnegaan en oor vier jaar 93%. Van hierdie produkte is nou onderhewig aan tariewe van tot 40%.
Australië se suiwelbedryf ter waarde van R126 miljard en sy tuinboubedryf sal van tariewe kwytgeskeld word en so ook bees- en skaapvleisprodusente wat nou tariewe van tussen 12% en 25% betaal.
Die tariewe van 14% tot 30% op Australiese wyn asook beperkende tariewe op ‘n wye reeks seekos sal binne vier jaar opgehef word.
Die organisasie Meat and Livestock Australia sê kragtens die ooreenkoms sal tariewe op bees-, skaap- en bokvleis, afval, velle en lewende beeste en skape oor tydperke van tussen vier en tien jaar opgehef word.
Volgens die organisasie sal die ooreenkoms, wanneer ten volle in werking, die bruto waarde van beesvleisproduksie teen 2024 jaarliks met R2,6 miljard kan laat styg. Teen 2030 kan die totale voordele vir beesvleis sowat R32 miljard bedra.
Vir die skaapvleisbedryf kan die voordele van die ooreenkoms meer as R17 miljard oor die volgende 16 jaar beloop.
Dit is tans vir die Australiese rooivleisbedryf moeilik om teen Nieu-Seeland mee te ding weens dié land se baie lae tariewe danksy 'n ooreenkoms met China.