
Dr. Arrie van Vuuren, voormalige besturende direkteur van Central Analytical Laboratories (CAL) op Pelindaba en tot met sy dood besturende direkteur van Greenhouse Trial and Research Centre, is op 77-jarige ouderdom oorlede.
Van Vuuren het ’n doktorsgraad in grondkunde, grondchemie en plantvoeding aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf met ’n spesifieke klem op die bandplasing van landboukalk verwerf. Die titel van sy tesis is “The Spatial Variation in Soil Chemical Properties Under Fixed Cultivation Practises”.
’n Verklaring van die misstofvereniging van Suid-Afrika (Fertasa) sê dat Van Vuuren daarna as voorligtingsbeampte by Triomf-kunsmis opgetree het, en daarna was hy as analitikus aan verskeie grond-, kunsmis- en plantlaboratoriums van die UP, NWK, CAL en SGS verbonde.
Van Vuuren was in 2007 een van die stigterslede en ook voorsitter van die landbou-laboratoriumvereniging van Suider-Afrika (Agrilasa). In 2013 het hy die J Benton Jones Jr-toekenning van die internasionale grond-en-plant-analisevereniging ontvang. Van Vuuren se maatskappy, Greenhouse Trial and Research Centre, evalueer verskeie kunsmis- en biokunsmistipes vir registrasiedoeleindes.
Gedurende sy leeftyd het Van Vuuren verskeie lede van Fertasa as konsultant in regulatoriese en tegniese kwessies verteenwoordig. Hy het sedert 2016 by ’n paar geleenthede as voorsitter van die Fertasa regulatoriese komitee opgetree. Van Vuuren was ’n lid van Fertasa se direksie en het as vise-voorsitter gedien in 2018 en 2019. Hy het in 2021 erelidmaatskap van die organisasie ontvang.
’n Baanbreker-grondkundige
Mnr. Leo Pistorius, besturende direkteur van H. Pistorius & Kie, sê Van Vuuren was ’n baanbreker wat nie doekies omgedraai het nie en wat diep spore op vele vlakke in landbou getrap het.
“Tesame met prof. Andries Claassens was Arrie die enigste van twee derdejaar-grondkundestudente wat onder die legendariese dr. Willie Fölcher gestudeer het. Fölcher se navorsing het bewys dat kunsmis grond versuur, wat die opname van grondvoedingstowwe ernstig belemmer. Later het Van Vuuren se navorsing weer bevind dat die versuring van bandgeplaasde kunsmis geneutraliseer kan word indien verkorrelde kalsiumkarbonaat in kleiner hoeveelhede saam met die kunsmis gebandplaas word. Hy was werklik een van die baanbrekernavorsers in Suid-Afrika en het vele boere as konsultant gehelp.”