
Von Abo sal veral onthou word vir die deurslaggewende rol wat hy ’n halfeeu gelede gespeel het om mielieboere in Suid-Afrika ’n onafhanklike stem in die raadsale te gee waar politieke besluite oor hulle geneem is. In ’n tyd toe Suid-Afrikaanse boere die regering baie gedienstig was, was dit ’n dapper stap wat vandag nog ’n gunstige impak het, sê mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, in ’n huldeblyk.
“Oom Crawford se lewe getuig van iemand wat opstaan en sy stem laat hoor. Dit is die voorbeeld wat hy vir ons los. Die regering weet nie altyd wat die beste is nie, het hy ons geleer.”
Mathews vertel dit het alles in 1966 begin toe ’n paar boere hulle beywer het om die verteenwoordiging binne die mieliekomitee van die destydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie (Salu) reg te stel sodat die boere se lot nie deur ander belanghebbendes bepaal word nie, maar dat hulle self kon bepaal wat tot ekonomiese volhoubaarheid en groei sou lei.
“Oom Crawford is verkies tot die eerste hoofbestuur asook die eerste dagbestuur van Sampi (Suid-Afrikaanse Mielieprodusente-instituut) en het saam met ooms Hennie Delport, Fanie Ferriera en Giep Nel die eerste dagbestuur gevorm. Dit was dié groep se sin van wat reg en regverdig, apolities en in belang van die produsent was, wat die stewige fondament gelê het waarop ons mieliebedryf vandag nog staan. Hulle was totaal toegewy aan die diens van die produsent se saak.”
Meer as 80% van die mielieprodusente sou uiteindelik die wegbreek-organisasie, Sampi, steun. Die latere eenwording van Sampi en sy opposisie, die Suid-Afrikaanse Mielieprodusente-organisasie (Samso), het gelei tot die stigting van Nampo, wat Graan SA geword het.
“My eerste herinneringe van oom Crawford is die Sampi-oesdae van die laat 1960’s en vroeë 1970’s wat ek saam met my pa bygewoon het. Toe kon ’n mens heeldag gehoor het hoe die naam Crawford von Abo deur ’n luidspreker geroep is namate boere van een demonstrasie tot die ander beweeg het.”
Zimbabwe
Mathews sê geen onreg of probleem was ooit vir Von Abo te groot om aan te pak nie, soos bewys deur sy verbete stryd met die regerings van Zimbabwe en Suid-Afrika tydens en ná die Zimbabwiese grondgrype wat hom van ’n persoonlike fortuin beroof het.
Von Abo het in 1953 ook in Zimbabwe begin boer en het teen 2002 verskeie plase in die buurland besit wat werk aan honderde mense verskaf het. In 2002 is hy selfs kortstondig in dié land in hegtenis geneem nadat hy sy werknemers te hulp gesnel het in hul stryd teen plaasbesetters. Uiteindelik het hy al sy plase en beleggings in dié land verloor ná ’n jare lange regstryd tot in die Suid-Afrikaanse Grondwethof om vergoeding te kry. Dit was egter tevergeefs nadat verlof tot appèl geweier is teen die uitspraak deur die appèlhof dat die Suid-Afrikaanse regering nie verplig is om skadevergoeding te betaal vir Zimbabwe se skending van Von Abo se menseregte nie.
Mathews sê hy glo nie Von Abo en sy groep baanbrekerboere het besef hoe ontsaglik groot die impak is wat hulle op die samelewewing gemaak het nie. “Ek glo dat hul optrede die begin was van ’n samelewing wat opstaan en sy stem laat hoor.”
Hy het sy medelye namens Graan SA en die boere aan Von Abo se familie uitgespreek en hulle bedank vir die tyd wat hulle Von Abo gegun het om die land se boere met onderskeiding te dien. “Ons eer julle saam met hom daarvoor.”
Verskeie eerbewyse is deur die jare aan Von Abo toegeken vir sy bydrae tot die georganiseerde graanbedryf. In 1981 is hy as Mieleiman van die jaar aangewys en in 1985 het hy Nampo se hoogste toekenning, die Goue Mieliepit, ontvang. In 1987 het hy saam met mnr Fanie Ferreira by Nampo ‘n ere-toekenning vir leierskap ontvang.
Mnr. Crawford von Abo is gebore en getoë op Bothaville. Sy pa is oorlede toe hy nog ’n jong seun was en hy moes self die boerdery behartig. Hy word oorleef deur sy vrou, Bibi, sy dogter, Dorette Penzhorn, en haar man, Ernst, en sy skoondogter Wilmi von Abo, wat met sy seun, Pieter, getroud was. Pieter is in 2020 aan covid-19 oorlede.