
Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die polisie het ook die slagoffer, mnr. Jacobus Nortjé (53), se Toyota Hilux-bakkie en ’n vuurwapen gevind.
Nortjé was glo op pad werk toe toe twee gewapende mans hom genader en geskiet het. Hulle het vermoedelik toe in die plaashuis gegaan waar hulle sy vrou aangetref het. Hulle het haar hande en bene met tou vasgebind.
Die verdagtes het die sleutels vir Nortjé se Toyota Hilux-bakkie geneem en daarmee van die toneel gevlug. Die verdagtes het ook die Nortjés se selfone, bankkaarte en ander besittings gesteel. Paramedici wat na die toneel ontbied is, het Nortjé op die toneel dood verklaar.
Volgens Mohlala het die ondersoekspan wat die voorval ondersoek inligting oor een van die verdagtes ontvang. Die polisie in Lydenburg se honde-eenheid het hom by ’n huis in Spring Valley in Witbank opgespoor.
Terwyl na die verdagte gesoek is, het twee verdagtes in die Nortjés se gesteelde bakkie verby lede van die eenheid gery. Die lede het hulle agterna gesit. Die bakkie het stilgehou en die twee verdagtes het te voet gevlug. Die eenheid se lede het hulself in twee groepe verdeel en die verdagtes te voet agterna gesit.
Een van die verdagtes het glo agter ’n hut probeer skuil en ’n lid van die honde-eenheid se vuurwapen by hom probeer vat toe hy op die verdagte afgekom het. ’n Struweling het gevolg en die verdagte is in die linkerbobeen geskiet.
Volgens Mohlala kan dié verdagte van Nortjé se moord en die roof van sy huis aangekla word. Die tweede verdagte het weggekom.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.