
Twee swart swane in die wêreldpolitiek is die covid-19-pandemie en die oorlog in Oekraïne. In Suid-Afrika draai baie om die leierskapsverkiesing van die ANC in Desember.
Mnr. Theo Venter, politieke en beleidspesialis, het op die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika (Gosa) se simposium in Mosselbaai gesê een van die vreemdste reaksies van die Suid-Afrikaanse regering was dié op die Russiese inval.
“MK-veterane is in Oos-Duitsland, Kiëf en Odessa opgelei. Hulle het dus bande met Oekraïne, maar die Russe is nie veroordeel nie, want pres. Cyril Ramaphosa het die vennootskap met Rusland nodig om herkies te word. Vanjaar se staatsrede was een van iemand wat vertroue het dat hy ’n tweede termyn president sal wees.”
Buitengewone tye
Suid-Afrika beleef buitengewone tye. Die ekonomie onderpresteer weens ’n gebrek aan sakevertroue, damme is vol en die droogte is gebreek, maar nou is daar oorstromings en sprinkane. Covid-19 het onsekerheid gebring. Die regering praat al hoe meer openlik oor die klein hoeveelheid plaaslike regerings wat nog goed bestuur word, maar daar is ’n verlies aan vertroue op plaaslike regeringsvlak.
Eskom en beurtkrag veroorsaak groot skade aan die ekonomie. Staatskaping en institusionele korrupsie word wyd gevoel, die meeste van die geweld in Suid-Afrika is aan faksiegevegte binne die regerende ANC gekoppel, wat die party se steun tot onder 50% kan laat daal.
Die aanstelling van regter Raymond Zondo as hoofregter is die gunstigste ontwikkeling in die land. Die president sal nie weer dieselfde paadjie loop met regter Mandisa Maya nie. Sy is reeds sy keuse om Zondo op te volg.
“Van 2008 af het mense nie meer vertroue in die politiek nie. Die impak van oudpresident Jacob Zuma sal ons nog ’n hele paar jaar treiter. Hopelik sal die ANC ontslae raak van nuttelose mense soos Ace Magashule. Die onrus in KwaZulu-Natal, wat begin het nadat Zuma tronkstraf gekry het, was beslis die gevolg van swak polisiëring en ekonomiese sabotasie wat deeglik beplan was.”
Venter het gesê die Russiese inval het die grootste verplasing van mense sedert die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak. Baie omvangryke sanksies teen Rusland beteken die Russiese ekonomie kan met 20% inkrimp. Oekraïne se ekonomie het al met 35% ingekrimp.
Die invloed op SA
“Die invloed op Suid-Afrika is dat alles duurder sal word. Die koste van energie gaan styg. Die groot hoeveelhede duur olie wat verbrand moet word om krag op te wek, sal innovering in die opwek van energie versnel. Omdat Suid-Afrika heelwat koring en sonneblomolie uit Rusland en Oekraïne invoer, voorspel ek dat boere in die volgende plantseisoen meer koring en sonneblom gaan plant.”
China is ongemaklik met die Russiese inval. China hou waarskynlik die sleutel tot die oplossing van die konflik, want dit is die enigste land wat Rusland kan dwing om te onderhandel.
Op die pad vorentoe is steeds baie onbekende faktore. Die Zondo-verslag gaan ’n groot invloed op leierskapskeuses hê. Ramaphosa het nie teenstand om in Desember herkies te word nie, maar faktore binne die ANC soos provinsiale leierskapskwessies, die beleidskonferensie wat die spelreëls bepaal en verskeie nuwe gesigte in die topses is alles deel van ’n ANC in diep moeilikheid op pad na 2024.