
Suid-Afrika het sy ergste veld- en bosbrande in sewe jaar die afgelope winter beleef, sê mnr. Linton Rensburg, nasionale kommunikasiebestuurder van die Werk vir Vuur (WVV)-program. Die WVV het die afgelope seisoen (tussen Junie en Augustus) 1 679 brande bestry.
Brande was 40% meer as die 2013-seisoen.
Rensburg sê ten spyte van die baie brande reg oor die land, het die nagenoeg 5 000 werkers van die WVV-program wat op 200 plekke oor die land gestasioneer is, dit reggekry om die brandgebiede tot 357 000 ha (70% meer as die vorige jaar) te beperk.
Die Kokstad-gebied in KwaZulu -Natal en die Alfred Nzo-streek in die Oos-Kaap het van die dodelikste brande ervaar, waar mense gesterf het, plase en huise vernietig is en ook duisende beeste omgekom het.
Sowat 80 000 ha fynbos is ook by die Elandsrivier, naby die Baviaanskloofberge by Willowmore, vernietig.
Die meeste brande, 368 met 19 300 ha wat vernietig is, het in KwaZulu-Natal voorgekom, gevolg deur Mpumalanga met 278 brande waar 12 300 ha gebrand het, in Gauteng was 262 brande en 32 670 ha het gebrand, in die Oos-Kaap 260 met 96 200 ha gebrand en 257 brande in Limpopo waarvan 18 570 ha gebrand het.
In die Vrystaat het 168 brande voorgekom met 141 143 ha wat in die slag gebly het, 65 in Noordwes met 13 000 ha gebrand, 13 in die Noord-Kaap met 220 ha gebrand en agt in die Suid-Kaap met 24 000 ha wat gebrand het.
Rensburg sê in baie gevalle was die oorsaak van die brande die lang tydperke waar min of geen reën voorgekom het nie, gekoppel aan warm droë winde. Nog 'n hoofrede was die uitbreiding van stedelike gebiede in die natuurlike veld- en bosbougebiede, wat die kanse vir die stigting van veldbrande kan verhoog.