
Groot getalle beeste en kleinvee is reeds hierdie somer met erge inwendige parasiete gediagnoseer en vrektes het voorgekom.
Sedert wydverspreide reën in groot dele van Suider-Afrika begin val het, word sulke gevalle toenemend by veeartse aangemeld.
Veral haarwurms neem toe by vee en verg boere se nougesette aandag om verdere vrektes te voorkom, volgens die Oktoberverslag van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA).
Meer as 120 verslae
Dr. Faffa Malan, bestuurder van RuVASA, het dié maand 123 verslae van veeartse ontvang oor veesiektes en parasiete wat gedurende Oktober voorgekom het. Bestudeer die tabel hieronder.
Malan sê kliniese tekens van erge wurmbesmetting is bloedarmoede (uitgeken aan bleek slymvliese), kwakkeel, gewigverlies en maagwerking. Daar is baie inligting en video’s oor die FAMACHA-bestuurstelsel vir inwendige parasiete op www.wormx.info.
‘n Veearts kan help om die omvang van besmetting deur middel van ‘n miseiertelling te bepaal en aan te beveel watter middels die beste vir ontwurming in die betrokke omgewing is.
Uitwendige parasiete
Alle bosluise neem nou toe; veral bloubosluise wat hoogty vier en in ál nege provinsies aangemeld is. Bosluise dra siektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater, galsiekte en knopvelsiekte oor. Inenting sal baie daartoe bydra om dié siektes te beheer.
Insek-oordraagbare siektes
Sekere siektes word deur insekte oorgedra, soos knopvelsiekte wat in Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat en KwaZulu-Natal aangemeld is. Dié siektes kan ook met inentings grootliks beheer word.
Geslagsiektes
Nuwe gevalle van trichomonose word elke maand aangemeld en woed nog steeds buite beheer voort. Boere moet seker maak hulle koop bulle slegs by boere wat behoorlike biosekerheid volg en elke jaar hul bulle laat toets vir geslagsiektes. Dié maatreëls sluit sterk, heel lyndrade en hekke in sodat besmette bulle nie kan draad spring nie. Dit is raadsaam dat groepe boere, soos studiegroepe, saam die nodige voorkomende en beheermaatreëls toepas.
Bakteriese siektes
Verskeie bakteriese siektes is aangemeld. Veral brucellose verg veeboere se volle aandag. Raadpleeg ‘n veearts oor ‘n omvattende inentingsprogram.
Virussiektes
Daar is nie behandeling vir virussiektes nie, maar diere behoort voorkomend ingeënt te word teen virussiektes wat moontlik kan voorkom. Daar is egter tans nie ‘n entstof vir ‘n gevaarlike siekte teen snotsiekte nie. Gesels met ‘n veearts vir die beste raad.
RuVASA se verslag word maandeliks opgestel uit inligting wat van veeartspraktyke ontvang word. Die doel is om boere in te lig oor die voorkoms van siektes, maar veral om siektes wat in hul gebied voorkom of kan voorkom, voorkomend te bestry en te let op diere wat met siektes en parasiete ingekoop word. Vir die volledige verslag besoek www.ruvasa.co.za en klik op Disease reports.