
Plaaslike vervaardigers van bande wil hê die regering moet teenstortingstariewe teen ingevoerde Chinese bande instel. Continental, Bridgestone, Goodyear en Sumitomo het die aansoek by die Suid-Afrikaanse kommissie vir handelsadministrasie (Itac) ingedien.
Invoerders van bande en belanghebbendes in die vervoerbedryf is baie bekommerd oor die impak as die aansoek slaag. Hulle het die vervaardigers se aansoek Dinsdag op ’n nuuskonferensie as “absurd” en “bisar” beskryf aangesien dié vervaardigers self bande invoer.
Bande is volgens hulle die derde grootste kostedrywer vir vervoermaatskappye ná lone en brandstof.
‘Finale nekslag’
Mnr. Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvervoeragentskap, sê ongeveer 80% van Suid-Afrika se goedere, soos medisyne, brandstof en ander goedere, word padlangs vervoer. “Baie vervoermaatskappye sukkel klaar met die stygende brandstofpryse en bedryfskoste. ’n Styging in die prys van bande kan vir baie die finale nekslag toedoen en ’n bedreiging word wat Suid-Afrika kritiek belangrike padvervoer en logistieke sektor in duie kan laat stort.”
Mnr. Charl de Villiers, voorsitter van die vereniging vir invoerders van bande (Tiasa), sê hoewel die taxibedryf die swaarste deur die moontlike tariewe getref sal word, gaan dit beteken die prys van vragmotorbande kan met 17% tot 18% styg, en bande vir bakkies en sportnutsvoertuie met selfs 30%.
“Dis realisties om te dink dat as die aansoek slaag, sal dit ekstra kostedruk op motoriste, bus- en taxi-operateurs, logistieke maatskappye en padvragvervoerders plaas. Wat meer kommerwekkend is, is die moontlikheid dat as voertuigeienaars te staan kom voor drastiese kostestygings, die handel in tweedehandse bande en selfs onwettige handel daarmee, kan toeneem. Mense kan ook langer wag om hul bande om te ruil en dit alles verhoog alle padgebruikers se risiko’s vir ongelukke.”
Volgens hom word 3 200 bandprodukte in Suid-Afrika verkoop. “Die aansoekers, volgens hul eie pryslyste, voer verskillende soorte bande in wat hulle dan plaaslik verkoop.”
‘Belaglikheid’ van aansoek
Mnr. Donald MacKay, stigter en uitvoerende hoof van XA International Trade Advisors, sê Continental en Goodyear voer al hul bus- en vragmotorbande in. Met die aansoek vra hulle dus vir tariewe teen hulself.
Hy sê as die aansoek suksesvol is, kan dit beteken handelaars verhoog hul pryse. “Dit is sekerlik goed vir winsmarges, maar sleg vir verbruikers.”
Die vier plaaslike vervaardigers is al deur die Mededingingskommissie ondersoek vir prysvasstelling. Die kommissie het bevind al vier het van 1999 tot 2007 ’n samewerkingsverhouding gehad. Bridgestone was in 2009 suksesvol met sy aansoek om versagting en Dunlop het ook weens die uitspraak geskik. Goodyear en Continental wag nog vir ’n finale uitspraak deur die kommissie.