
Toe me. Jeanet Rhikotso (29), bestuurder van die Middeldriftmelkery naby Alice, by verskeie banke aangeklop het om geld te leen om melkkoeie te koop, wou hulle niks weet nie. Hulle was egter heel gretig om vir haar ’n motor te finansier.
Daar was egter ’n melkboer wat soveel vertroue in haar gehad het dat hy al 100 beeste namens haar gekoop het. Dié verhaal is op die Bathurstbewaringskomitee (BCC) se boeredag vertel. Rhikotso, wat van Limpopo kom en aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gestudeer het, het in 2008 by Amadlelo Agri by Alice haar praktiese opleiding gedoen.
“Hoewel ek aanvanklik net my opleiding wou voltooi en daarna elders om werk wou aansoek doen, was dit my mentor, mnr. Leonard Mavhungu, bestuurder van Amadlelo Agri, wat my aan deelmelkery bekend gestel het.
“Die probleem was dat ek nie genoeg geld gehad het om melkkoeie te koop nie. Ondanks aansoeke om ’n lening by verskeie banke was geeneen van hulle bereid om vir my geld voor te skiet nie.
“Toe mnr. Simon Matthews van Alexandria en voorsitter van die BCC daarvan hoor, het hy 50 melkbeeste namens my gekoop. Nadat ek hom met rente terugbetaal het, het hy nog 50 koeie vir my gekoop.”
Rhikotso het gesê dit het baie opofferinge geverg om ’n sukses van haar besigheid te maak. “Ek gaan nie ’n duur motor ry en duur klere dra nie. Maar vandag weet ek weelde gaan nie oor wat jy aantrek en in watter motor jy ry nie. Dit is die voorreg om te boer.”