Suid-Afrika se voedselinflasie styg vinniger as dié van die meeste Afrikalande en ander ontluikende markte.
’n Mandjie met basiese voedsel was in Januarie vanjaar R54,78 (14,3%) duurder as ’n jaar gelede. Dít terwyl die verbruikersprysindeks (VPI) in dieselfde tyd met 6,3% gestyg het.
Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se verslag oor voedselpryse dui aan dat die inflasie op voedsel en nie-alkoholiese drank vanaf Januarie verlede jaar tot Januarie vanjaar met 10,3% gestyg het.
Die VPI vir geadministreerde pryse het in dieselfde tyd met 13,5% gestyg. Geadministreerde koste sluit in die prys van elektrisiteit en tolgeld. Prof. André Jooste van die NLBR sê verbruikers in landelike gebiede betaal steeds meer vir kos as hul stedelike eweknieë.
Kosmandjie raak duurder
“ ’n Mandjie met basiese kossoorte is R2,37 duurder op die platteland as in stedelike gebiede. Die verskil is egter heelwat kleiner as wat dit die vorige aantal maande was.” Die armste derde van die land se inwoners bestee deesdae 38,7% van hul maandelikse inkomste aan kos.
Jooste sê dít is die hoogste persentasie wat nóg daaraan bestee is. Die voedselgroepe wat deur inflasie van meer as 10% geraak is, sluit in olie, vleis, suiker, lekkergoed, groente, brood en graan.
Jooste sê die plaaslike prys van wit mielies het in ’n jaar met 90,41% gestyg. Verbruikers het 41,31% meer betaal vir supermieliemeel (5 kg) en 63,88% meer vir spesiale mieliemeel (5 kg).
2 Maart 2012