’n Beampte van Noordwes se departement van landbou en landelike ontwikkeling is Dinsdag (29 Maart), op heterdaad betrap toe sy geld van ’n tender van R1,6 miljoen gewanadministreer het, sê die SAPS.
Brigadier Thunani Ngubane sê die vrou is in hegtenis geneem toe sy geld wat sy van die persoon aan wie die tender toegestaan is, in Mahikeng in ontvangs geneem het.
“Sy het glo die man gekontak en R150 000 van dié tendergeld van hom geëis. Hy het die Polisie gekontak en met behulp van die man het ons haar aangekeer terwyl die transaksie plaasgevind het,” verduidelik Ngubane.
Teleurstelling
Die departement sê hulle het met groot teleurstelling van die inhegtenisneming kennis geneem. Die vrou was glo een van die topbeamptes van die afdeling vir voorraadbestuur.
Mnr. Boitumelo Tshwene, die LUR, sê hulle sal met die Polisie saamwerk en hulle ondersteun in die ondersoekproses teen die beampte: “Só kan ons verseker die Regering wen die oorlog teen wanadministrasie in die openbare diens. Voorvalle van korrupsie moet uitgewis word.”
Die vrou het Woensdag (30 Maart) in die landdroshof op Mahikeng verskyn.
30 Maart 2011