
Suid-Afrika se beperking op die invoer van vleisprodukte vanaf sekere Brasiliaanse aanlegte kan die plaaslike bedryf vir verwerkte hoenderprodukte die meeste raak.
Sowat 42% van ingevoerde pluimveeprodukte het verlede jaar uit Brasilië gekom. In die laaste kwartaal was meer as 70% hiervan bevrore meganies ontbeende hoendervleis wat in Suid-Afrika in verwerkte produkte gebruik is.
'n Skandaal het die Brasiliaanse vleisbedryf middel Maart getref oor 'n ondersoek dat bederfde hoender- en beesvleis van 21 verwerkingsaanlegte uitgevoer is.
Verbruikers sal nooit weet nie
Mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die SA Pluimveevereniging, sê alle geprosesseerde hoendervleisprodukte in Suid-Afrika kan in 'n stadium Brasiliaanse meganies ontbeende vleis bevat, maar verbruikers sal nooit weet wat die oorsprong van die meganies ontbeende vleis in sulke produkte is nie.
Ingevoerde Brasiliaanse agterkwarte sal volgens hom waarskynlik eerder in plaaslike supermarkte se slaghuisafdelings as in hul vrieskaste verkoop word. Supermarkgroepe het in mediaberigte gesê hulle het baie min Brasiliaanse produkte op hul rakke.
“Daar is baie ander aanlegte in Brasilië. Suid-Afrika se invoerbeperking is net op die aanlegte wat ondersoek word, van wie drie toegemaak is. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het verkies om 'n versigtige benadering te volg, wat die risiko beperk sonder om handel erg te belemmer.”
Lovell sê as die invoerbeperking 'n groot invloed sou hê, sal dié invoer waarskynlik met produkte uit die Europese Unie vervang word.