
Die landbousakekamer Agbiz is bekommerd dat die huidige maatskaplik-ekonomiese beleid die land sal rem tot ’n buto binnelandse produk (BBP) wat slegs 2% of 3% jaarliks oor die volgende paar jaar sal groei.
Mnr. Schalk Pienaar, voorsitter van Agbiz, het in sy voorsittersrede op die organisasie se kongres gesê gegewe die land se goed gedokumenteerde ekonomiese probleme en die staat se groter deelname in die ekonomie, ontstaan die vraag of die land se ekonomie voldoende sal groei om in sy behoeftes te voldoen. Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum kan die land oorskakel van ’n basies doeltreffend gedrewe ekonomie na een wat deur innovering gedryf word.
“Dit gaan my verstand te bowe dat die Regering daarop uit is om beheer oor só baie aspekte van ons daaglikse lewens wil uitoefen – veral in die sake-omgewing.”
Pienaar het ook ’n waarskuwing vir die private sektor gehad. Dié sektor sal sy moue moet oprol en sy produktiwiteit moet laat herleef.
Dié sektor sal ook meer ondersteuning aan bedryfsliggame moet verleen. Pienaar het gesê hoewel Agbiz goed deur Suid-Afrikaanse landboubesighede verteenwoordig word, sukkel ander bedryfsliggame om te oorleef. “Dit is nie goed nie want dit het ’n ongunstige impak op hulle potensiaal om doeltreffend met die Regering in die belang van private ondernemings te onderhandel,” het Pienaar gesê.
Mnr. Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa), het gesê dit is belangrik vir besighede om saam te staan. Sake-ondernemings in die landbou moet verstaan wat die Regering se agenda is en dit met sy eie agenda vergelyk en daarna met die Regering begin samesprekings voer om die verskille te hanteer. “Die Regering het baie keer goeie bedoelings, maar die manier hoe hy dit doen, veroorsaak probleme vir landbou-ondernemings.”