
Hy erken ruiterlik dat bedrog binne sy departement, en nie Suid-Afrikaanse boere nie, die grondhervormingsproses kniehalter, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, op Afasa se kongres gesê.
Nkwinti het tydens die African Farmers' Association of South Africa (Afasa)-kongres gesê dat bedrog binne sy eie departement besig is om die grondhervormingsproses te verstadig.
“Dit is nie die boere wat van die staat steel nie. Daar is bedrieërs in die departement en hulle vat ’n groot hap uit die beskikbare fondse,” het die minister gesê en verwys na die onlangse situasie waar grondwaardeerders hemelhoë grondpryse in Groblersdal voorgestel het. Ná samesprekings met boere in die gebied is die pryse afwaarts aangepas.
“Dit wys daarop dat boere bereid is om saam te werk, maar dat daar mense binne die departement is wat besig is om bedrog te pleeg,” het Nkwinti gesê. Hy het gesê dat die ware waarde van grond van ’n waardeerder-generaal sal moet kom.
Nkwinti het ook gesê dat die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling in die Oos-Kaap slegs 5% van sy begroting bestee het, terwyl die Vrystaatse departement slegs 3% bestee het. Die rede hiervoor, meen hy, kan wees weens die feit dat begin is met forensiese oudits.
“Ek dink daar was wanpraktyke in ons departement in terme van finansiële bestuur en ons kan dus nie die boere blameer vir ‘n stadige grondhervormingsproses nie,” het die minister gesê.
Mnr Japie Grobler, voorsitter van Asuf, het gesê dat die erkenning deur die minister ‘n belangrike element in die voorlegging was. “Dit is belangrik om groot genoeg te wees om te erken dat jou eie mense in die departement nie hulle werk doen nie, maar die vraag is nou: Wat doen ons daaromtrent? Dit is nie goed genoeg om net te sê dat daar baie mense binne die departemente is wat nie hulle werk doen nie. Ons hoor elke dag van die goeie beleide wat daar vir die landbou bestaan, maar daar is geen of bittermin implementering wat gedoen word, so stappe is nou nodig om dit uit die weg te ruim."