
Plase ter waarde van bykans R470 miljoen is aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming terugbesorg nadat dit uit die korrupte hande van amptenare teruggevat is. Dié amptenare het met ander partye saamgespan om die departement te bedrieg.
’n Ondersoek na beweerde wanadministrasie, wanbestuur en onwettige optrede is deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aangevra toe verskeie onreëlmatighede by grondhervormingsprogramme aan die lig gekom het.
Die Spesiale Ondersoekeenheid, in samewerking met die Valke, die Batebeslagleggingseenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het kragte saamgespan om dié korrupsie te ontbloot.
Bedrieglike toestaan van grondtoelaesDie ondersoek wat begin het by die bedrieglike toestaan van grondtoelaes van byna ’n halfmiljard rand, het gou uitgekring na plase wat nie aan begunstigdes oorgedra is nie. Dit het vanaf 1 Januarie 2006 tot 18 Februarie 2011 plaasgevind.
Die NVG het besluit om eerder die 29 plase ter waarde van bykans R470 miljoen aan Nkwinti terug te besorg sodat dit aan al die regmatige begunstigdes oorhandig kan word. (Sien aangehegte lys van plase)
Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, het die besluit verduidelik deur te sê in die gees van ’n gedeelde visie en doel en inter-regeringsamewerking is besluit om nie die eiendom waarop beslag gelê is te verkoop en die geld in die beslagleggingsrekening (CARA) oor te betaal nie.
Abrahams het die beduidende vordering wat gemaak is aangedui:
* Altesaam 35 (plase) bewaringsbevele ter waarde van R462 910 is gedurende die ondersoektydperk gekry, wat tot beslagleggingsbevel ter waarde van R374 miljoen gelei het.
*Altesaam 15 van die plase met ’n waarde van net meer as R142 miljoen is terug aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming besorg.
*Sowat 12 sake is vir kriminele ondersoek en vervolging verwys.
Verdagtes is verkopers, amptenare en prokureursAbrahams het aangedui dat die verdagtes onder meer amptenare van die departement, verkopers van die plase en van die oordragprokureurs is.
Intussen word nóg 40 voorvalle rakende die onreëlmatige oordrag van plase ter waarde van R400 miljoen ondersoek. Dit is 19 plase in die Wes-Kaap, 12 in die Vrystaat en altesaam nege in Limpopo en Mpumalanga.
Nkwinti het gesê hy beoog om die plase wat die departement reeds teruggekry het, voor einde Desember aan die verdienstelike begunstigdes te oorhandig. Die begunstigdes sal sertifikate vir die reg tot grondgebruik kry om te verseker dat hulle nie van hulle grond ontneem word nie.
Foto hieronder: Hier is die lys van plase wat korrupte amptenare van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nie aan die ware begunstigdes oorgedra het nie.