
Outa versoek dat Mabuza en ander beskuldigdes aangekla word vir die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Wet 121 van 1998), wat verband hou met afpersing aangesien die beskuldigdes belang of beheer van misdaadbedrywighede bekom of behou het.
Laasgenoemde verwys na ’n beweerde bedrogspul met grondrestitusie deurdat beheer geneem is oor groot stukke grond in die distrik Badplaas in Mpumalanga, soms op ’n bedrieglike manier. Dié grond is dan teen oordrewe pryse aan die kommissie vir grondeise verkoop.
Die klag hou ook verband met die Probleemdierfonds, ’n onderneming wat glo ’n inkomste verdien het deur wild van kant te maak en om die grondrestitusiebedrogspul te steun.
Indien die beskuldigdes skuldig bevind word, kan hulle boetes van tot R1 miljard of lewenslange tronkstraf opgelê word.
Volgens Outa is die volgende misdade in die proses gepleeg: dwarsboming van die gereg, diefstal, bedrog, meineed, minagting van die hof, intimidasie, afpersing, en die sameswering, opruiery of poging om misdade te pleeg wat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad gelys word.
Mnr. Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van Outa, sê die saak het Outa se aandag getrek weens die skade aan die ekonomie van Mpumalanga en Suid-Afrika. In 2015 het afgetrede regter William Heath gesê dat bogenoemde misdade die plaaslike ekonomie in Badplaas gedestabiliseer en verlies aan belegging ter waarde van R35 miljard, asook 6 000 plaaslike werksgeleenthede veroorsaak het. Dit was ’n harde slag vir ’n gebied met ’n werkloosheidskoers van 75%.
Mnr. Fred Daniel het jare gelede alarm oor die bedrogspul gemaak. Ten spyte daarvan dat baie al oor die saak geskryf en onthul is, was daar volgens Duvenhage nog geen doeltreffende optrede deur wetstoepassing nie.
Outa het die saak na die NVG verwys na aanleiding van hofrekords van Daniel se siviele geding teen onder meer Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap by die hooggeregshof in Pretoria oor die verlies van sy natuurreservaat van 39 000 ha, die Cradle of Life-projek.
Mabuza se skaduwee
Mabuza is nie as ’n beskuldigde in hierdie litigasie genoem nie, maar volgens Duvenhage “hang sy skaduwee oor hierdie saak” wat in 2010 ingelewer is en waarvan die verhoor uiteindelik in Augustus 2021 begin het. Duvenhage sê ses polisiedossiere het intussen verdwyn, wat op ’n hoë vlak van die toesmeer van bewyse van korrupsie dui.
Duvenhage sê die bedrogspul met grondrestitusie het behels dat plase opgekoop word. Die beskuldigdes het hulle dan as eienaars van die plase voorgedoen en die plase teen oordrewe pryse aan Mpumalanga se streekskommissie vir grondeise verkoop. Dié kommissie het dan die koste van die nasionale departement van grondsake teruggeëis vir duisende grondeisers, ten spyte daarvan dat geen wettige eise vir daardie plase geregistreer is nie.
Huureise is bedrieglik as restitusie-eise vir hele plase aangebied, maar die eisers is nooit geverifieer nie. Daar was ook meer eisers as die aantal inwoners in die gebied en dit wil voorkom of geen grondeisers by hierdie eise baat gevind het nie.
Die totale betalings vir grond wat die kommissie in Badplaas gekoop het vanaf 1 April 2003 tot 31 Augustus 2004 beloop volgens Ernst & Young R206 275 524.
In 2008 het Mabuza, in daardie stadium ’n LUR in Mpumalanga, die Greater Badplaas Land Claim Committee op die been gebring, wat Outa glo ingespan is om Daniel te intimideer as deel van ’n grondgryp. Die plaaslike polisie en Daniel se sakevennoot is aangerand – glo terwyl Mabuza toegekyk het.
Die Probleemdierfonds
Die Probleemdierfonds het die provinsie se biodiversiteit uitgebuit deur munt te slaan uit die doodmaak van sogenoemde probleemdiere. Dit is gedoen deur jagpermitte aan die hoogste bieër te verkoop. Die wildbeskermingsdienste by Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap is hiervoor ingespan, wat daartoe gelei het dat diere beskerm moes word teen dieselfde mense wat veronderstel was om hulle te beskerm.
Die fonds het ’n bankrekening bestuur wat sonder oorsig ingevolge die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (Wet 1 van 1999) geval het. Werknemers by die wildbeskermingsdienste het besluit watter diere probleemdiere was, jagpermitte aan die hoogste bieër uitgereik en die opbrengs daarvan in die fonds geplaas.
“Hierdie konflik van belang en gebrek aan oorsig het hierdie misdaadonderneming aan die gang gehou,” sê Duvenhage. “Hulle het diversiteit as ’n koekieblik gesien. Die enigste bestaande verduideliking vir bogenoemde optrede deur organe van die staat en hul voormalige werknemers is dat hulle heraangewend is om die korrupte belange in die grondeise-, wild- en landbousektor te dien en beskerm.
“Die verwydering van bewyse uit dossiere en die verdwyning van ses dossiere wat met dié misdaadonderneming te doen het, is onbetwisbaar.”
Hy sê pogings om geregtigheid te dwarsboom en sy reputasie as ’n bewaarder te beswadder, hardloop soos ’n draad deur Daniel se ervaring. Dit terwyl die beskuldigdes in die saak vir meer as 15 jaar aanhou om geregtigheid te dwarsboom ten einde hul misdade toe te smeer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.