
In die lig van ’n allemintige 4 miljoen ton mielies wat uitgevoer sal moet word om by 'n normale oordragvoorraad te eindig, beplan die graanbedryf 'n beraad met alle belanghebbendes om seker te maak die uitvoerpyplyn is so oop as moontlik.
“Daar gaan beslis uitdagings wees maar dit is gelukkig makliker om uit te voer as in te voer,” sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA. Die vergadering met alle rolspelers wat by uitvoere betrokke is, vind op 14 Junie plaas. “Ons het verlede jaar 'n soortgelyke vergadering gehou om grootskaalse invoere te beplan.”
Bielie van 'n mielie-oes
Suid-Afrika kan nou spog met die grootste mielie-oes en hoogste opbrengs ooit. Die grootte van die kommersiële oes is met 1,095 miljoen ton aangepas tot 1 5,631 miljoen ton op 'n oppervlakte van 2,6 miljoen ton.
De Villiers sê die jongste skatting sou vir hom 'n verrassing gewees het as dit nie was dat talle boere by die Nampo-oesdag almal oor beter opbrengste gepraat het nie. “Baie het gesê hulle pitgewig was hoër. Ek dink dit was weens goeie reën in die bestuiwingsfase en baie oorlê-lande was nou weer in produksie."
Hy glo weens die goedkoper prys sal baie wit mielies in Suid-Afrika vir die voermark gaan. “Die prys moet ook nog net so R150/ton laer dan sal die Meksikaanse mark ook vir ons oop wees.”
Vraag na mielies
Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbou-sakekamer Agbiz, sê die surplus wat uitgevoer sal moet word is 52% wit en 48% geel mielies.
Hy meen daar is ’n stewige vraag internasionaal na geel mielies, maar dieselfde geld nie vir wit nie. Wit mielies word normaalweg na Afrika-markte uitgevoer, maar met Zambië, Malawi en Zimbabwe wat ook beter oeste het, beperk dit uitvoermoontlikhede.
“In Oos-Afrika, lande soos Kenia, Burundi en Tanzanië, word tekorte ondervind maar omdat sowat 85% van Suid-Afrikaanse mielies geneties gemodifiseerd (GM) is, is dit ’n struikelblok. Hierdie lande sal waarskynlik eerder mielies uit Zambië en Malawi invoer.”
Sihlobo glo ook die oplossing op korttermyn sal wees om meer wit mielies plaaslik as voer te benut en meer geel uit te voer.
Markte beskikbaar
Mnr. Brink van Wyk, handelaar van die verhandelingsonderneming, BVG, sê daar is altyd markte beskikbaar as jou mielies goedkoper is.
“Amerika voer elke week een miljoen ton uit. Ons paar miljoen ton is niks as plaaslike pryse laag genoeg daal nie. Die enigste ander probleem is dat daar soveel mielies op die oomblik in die wêreld beskikbaar is, dat invoerders traag is om vooruit te koop.”
Hy glo Suid-Afrika het die kapasiteit om soveel uit te voer. “Beide pad- en spoorvervoer, asook die hawens sal dit kan hanteer.”
Geel vloei die maklikste want dit is wat veevoerders regdeur die wêreld gewoond aan is.
Raaisel
Mnr. Ryno Olwagen, meester-handelaar van BVG, sê dit is ’n raaisel dat mieliepryse in die dae onmiddelik na die skatting bekend gemaak is, gestyg het eerder as om te daal.
“Dit kan wees omdat almal in elk geval 'n groter oes verwag het en dit reeds in die pryse weerspieël word.”
Op die dag waarop die skatting bekend gemaak is, was die Safex-witmielieprys vir lewering in Julie R1 732/ton en vir geel R1 871/ton. Twee dae later was die prys vir wit R1 775/ton en vir geel R1 905/ton. Olwagen sê pryse is reeds besonder laag as dit in ag geneem word dat die witmielieprys by R5 200/ton gedraai het.