
Die skielike dood van mev. Helga Prinsloo (39), uitvoerende hoof van Beefmaster SA, het Beefmaster-geledere in rou gedompel. Prinsloo is Woensdag omstreeks 10:00 in 'n motorongeluk oorlede.
Prinsloo en 'n kollega, me. Elaine Niewoudt, was op pad na 'n Beefmaster-veiling in die distrik Vrede onderweg toe die ongeluk gebeur het. Nieuwoudt is ongedeerd. Prinsloo het vir 11 jaar by die Beefmaster-kantoor in Parys as algemene bestuurder gewerk.
Mnr. Jan Schoeman, onder-voorsitter van die Beefmaster-genootskap, sê Prinsloo se dood is 'n groot slag. “Sy het alles geweet en bestuur. Ons as raad het besluite geneem en sy het dit uitgevoer en gesorg dat alles goed afloop.”
Schoeman sê Prinsloo was 'n wonderlike mens en het met almal rondom haar oor die weg gekom. “Dit was regtig ’n plesier om saam met haar te werk. Haar dood is 'n groot skok en ons in baie hartseer,” sê hy.
Niewoudt en Prinsloo het mekaar jare lank geken en saamgewerk. “Helga was soos my suster,” sê sy. “Sy was 'n dierbare, sprankeling mens met 'n hart van goud.”
Prinsloo laat haar man, Christo, en twee kinders agter.