
Die droogte het die landbou ‘n guns bewys, want elke want Suid-Afrikaner is nou bewus van die boer se funksie as voedselprodusent en dat die land moet omsien na sy boere, het mnr. Christo van der Rheede, adjunkhoof van Agri SA, op Vrystaat Landbou se kongres gesê.
Hy het gesê dat die beeld van die landbou in die openbare oog tans betreklik goed is.
Volgens hom moet die landbougemeenskap nou 'n baie groter mate van aktivisme inneem. "Ons kan nie meer agteroor sit en wag vir die Regering nie."
Een van die aspekte waarmee die landbou die Regering kan help, is met die doeltreffende inwerkingstelling van grondhervorming ingevolge die Grondwet.
Ander aspekte waar boere aktief hul bydrae moet lewer, is ten opsig van voedselsekuriteit in Suid-Afrika en in dele van Afrika. Boere moet ook help met boerontwikkeling om die nuwe geslag produsente te help vestig op grond waar hulle 'n produktiewe bydrae kan lewer. Hulle moet ook in die georganiseerde landbou se strukture betrek word.