
Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê dié vonds is rondom 18:00 gemaak en die polisie is na die toneel ontbied, wat bevestig het dat dit mensbeendere is.
Daar is twee klein gate in die skedel wat aandui dat die oorledene moontlik geskiet is. Twee kabelbinders was aan die beendere geheg, wat beteken dat die persoon ook vasgebind was. ’n Geskeurde swart baadjie en swart broek is saam met die beendere gevind. Die geslag van die mens is nog onbekend.
Mohlala sê die ondersoek word as ’n geregtelike doodsondersoek hanteer, maar dit kan na aanleiding van verdere ondersoeke na ’n moordondersoek verander word.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, hoop dat die ondersoek die omstandighede sal onthul wat tot die mens se dood gelei het.
Die polisie versoek intussen dat enigiemand wat inligting oor die beendere het, of iemand vermis wat soortgelyke klere aangehad het toe hulle laas gesien is, om die Delmas-polisie of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.