
Die uitvoer van arbeidsintensiewe tuinbouprodukte maak ’n groter impak op die land se totale landbou-uitsette, terwyl die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming na verwagting R1,1 miljard sal toestaan vir die bestuur en ondersoeke na nuwe grondeise wat ingestel word.
Mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies, het sy eerste mediumtermyn-begroting in die Parlement ter tafel gelê, wat fokus op die herstel van die balans van die land se finansies, die ondersteuning van beleggings en om beter waarde te kry uit staatsbesteding.
“Ons wil ons uitvoerprestasie verbeter en wegbeweeg van ’n verbruiksgedrewe, skuldafhanklike uitbreiding.” Die verwagte ekonomiese groei vanjaar is afwaarts van 2,7% tot 1,4% aangepas.
Nene het aangedui dat die landbou vanjaar sterk groei getoon het, hoofsaaklik vanweë groot stygings in mielie- en veeproduksie, gunstige weerstoestande en hoër pryse.
Die sektor het ook deur beduidende strukturele veranderinge sedert 2000 gegaan deur te skuif van tradisionele gewasse na ’n meer kommersiële en uitvoergedrewe aanslag. Dit het egter tot minder werksgeleenthede gelei, maar die grootste uitvoer-subsektor, tuinbou, het gegroei. Die uitvoer van tuinbougewasse, soos druiwe, sitrus en neute, groei nou as ’n deel die totale landbou-uitsette en vervang hoë gemeganiseerde graanuitvoere soos mielies en koring. Tuinbou het sy uitvoer na Afrika met 24% gegroei, terwyl wêreldwye sitrusuitvoer met 29% gegroei het.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, se middeljaar-vordering toon dat 12 167 kleinskaalse boere in die eerste kwartaal van die 2014/’15 boekjaar ondersteuning gekry het en dat die aanplanting van gewasse by onderbenutte gebiede in die reënseisoen sal begin.
Nene het gesê skakels tussen opkomende boere en markte moet in lyn gebring word met grondhervorming en die ondersteuningsprogramme vir die landbou.
Rakende grondhervorming het hy gesê dat die departement genoeg geld in sy begroting het om hom deur die mediumtermyn te dra. Vir die mediumtermyn is R35 miljard aan die departement toegestaan, hoofsaaklik om landbou-ontwikkeling, restitusie en grondhervorming te ondersteun.