
Eskom se skuld staan op ongeveer R422 miljard en daar word wyd verwag Godongwana sal Woensdag aankondig hoeveel daarvan deur die nasionale tesourie oorgeneem gaan word.
Hy het reeds in Oktober tydens die mediumtermynbegroting aangekondig nasionale tesourie sal ’n gedeelte van Eskom se skuldlas op sý balansstaat oorneem, maar die omvang van die stap is nog nie bekend nie. Eskom het vroeër laat blyk dit kan een derde tot twee derdes van sy skuld wees. Dit beteken sowat R280 miljard kan op die tesourie se balansstaat aangeteken word.
Die bedrag wat uiteindelik vanaf Eskom se balansstaat gaan verwdwyn, moet egter betekenisvol wees, vra kenners. Me. Olga Constantatos, hoof van krediet by Futurgrowth Batebestuurder, sê moontlike beleggers gaan daarom veral op die uitkyk wees vir ’n duidelike verbintenis vanaf nasionale tesourie. “Dit is veral belangrik dat die skuldverligtingsplan nie wanbetaling op ander leningsooreenkomste veroorsaak nie.”
"Herskedulering" van skuld
Sy waarsku ook oor die gebruik van die term “herskedulering” van skuld aangesien dit gevaarligte vir graderingsagentskappe kan laat flikker en die moontlike afgradering van Eskom deur kredietgraderingsagentskappe beteken. “Die tesourie sal juis die afgradering wil voorkom aangesien dit die koste van skuld van Eskom kan verhoog.” Sy sê die hoeveelheid detail wat die minister Woensdag oor die skuldverligting kan gee, gaan moontlik steeds nie die volle prentjie skets nie en sekere detail sal nie dadelik bekend gemaak word nie
Benewens die skuldverligting, glo sy Eskom moet in elk geval andere belangrike kwessies aanspreek voordat die kragreus weer volhoubaar op sy eie finansiële voete sal kan staan:
- Tariewe vra wat sy koste weerspieël.
- Verbetering van kostedoeltreffendheid, veral ten opsigte van die uitermatige gebruik van die oopsiklus-gasturbines wat diesel verbrand.
- Hoe Eskom agterstallige munisipale skuld gaan aanpak. Munisipaliteite skuld Eskom sowat R57 miljard.
- Die omvang van die skuldverligting wat die regering onderneem het om aan te kondig.
Eskom het ook nog nie ’n opvolger vir sy huidige uitvoerende hoof, mnr. André de Ruyter, aangekondig nie, hoewel daar reeds met ’n soektog na ’n geskikte kandidaat vir De Ruyter se warm stoel begin is.
Pres. Cyril Ramaphosa het twee weke ná sy onderneming om ’n minister van elektrisiteit aan te wys, nog nie aangedui wie in hierdie nuwe – en volgens berigte tydelike – pos aangestel gaan word nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.