
Die verbetering van regulatoriese maatreëls, die beskerming en herstel van infrastruktuur en die doeltreffende bestuur van water- en sanitasiedienste is hooffokuspunte van die department van water en sanitasie in die mediumtermynbestedingsraamwerk (MTBR).
Die departement se begroting vir die 2022-’23-boekjaar is R18,5 miljard en sy totale begroting oor die MTBR is R59,6 miljard.
Die oordragte en subsidies na departementele agentskappe, openbare operateurs en munisipaliteite maak die grootste deel, altesaam R34,9 miljard, hiervan uit.
Die verwagting is dat die totale uitgawes met 5,6% per jaar van R17,7 miljard in die 2021-’22-boekjaar tot R20,9 miljard in 2024-’25-boekjaar sal toeneem. ’n Bykomende bedrag van R5,3 miljard sal op mediumtermyn vir kapitaalprojekte, wat die begroting vir water en streeksinfrastruktuur insluit, toegeken word.
Die departement verwag om oor die MTBR-tydperk ongeveer 32 munisipale distrikte te ondersteun om betroubaarheidsplanne vir water en sanitasie te ontwikkel.
Oor dieselfde tydperk sal die departement verseker dat ongeveer 80% van aansoeke om watergebruik binne 90 dae afgehandel word, en dat 963 afvalwaterstelsels beoordeel word vir voldoening aan die regulatoriese vereistes.
Aktiwiteite wat met waterhulpbronne verband hou, sal ingevolge die waterhulpbronbestuurprogram R270,7 miljoen oor die MTBR ontvang. ’n Bedrag van R220,9 miljoen sal toegeken word vir die waterhulpbronoorsigprogram. ’n Bedrag van R323,9 miljoen sal oor die MTBR toegeken word vir waterdienste soos die voldoening aan regulasies, en R71 miljoen vir die waterdiensregulasieprogram.
Die departement sal voortgaan om in waterhulpbronne te belê en in projekte soos fase 2 van die Olifantsrivier-, die Mokolo-Krokodilrivier- en die Umdlotirivier-ontwikkelingsprojek, en die verhoging van die walle van die Tzaneen- en Hazelmeredam.
Die besteding in die waterhulpbronbestuursprogram sal na verwagting jaarliks met 10,7% groei vanaf R3,6 miljard in die 2021-’22-boekjaar tot R4,9 miljard in die 2024-’25-boekjaar. Dit sluit in die besteding van ongeveer R2,1 miljard oor die MTBR om die Clanwilliamdamwal te verhoog, het mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, gesê.
Om nuwe grootmaatwaterprojekte te finansier en waterinfrastruktuur te onderhou, sal besteding op nasionale waterhulpbronnebestuur toeneem vanaf R27,5 miljard in 2021-’22-boekjaar tot R47,4 miljard in die 2024-’25-boekjaar.