Die landbousektor wag in spanning vir die Departemente van Landbou, Bosbou en Visserye en Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se begrotingsredes vir meer duidelikheid oor 2011.
Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand (10 Februarie) in sy Staatsrede daarop gewys dat hulle wil fokus op die skep van werkgeleenthede in die landbousektor. Hy het ook genoem dat landelike ontwikkeling en grondhervorming vir die staat ‘n prioriteit gaan wees.
Mnr. Ben Marias, voorsitter van die TLU SA, sê hulle is teleurgesteld dat Zuma nie die geleentheid gebruik het om die sektor gerus te stel oor hulp vir vloedskade, of oor die bedreiging van grondhervorming nie.
“Solank dit wil voorkom of plaaswerkers in baie gevalle betrokke is by plaasaanvalle, sal die landbousektor versigtig wees voordat aanstellings gemaak word. Solank die Regering boere se eiendomsreg in gevaar wil stel deur elke plaaswerker en nabye familielede permanente verblyfreg te gee, sal boere geen nuwe werksgeleenthede skep nie.
"Solank as wat arbeidswetgewing voorskriftelik is en boere, as werkgewers, ontneem van hulle reg van onderhandeling rakende vergoedingsvoorwaardes, maak die Regering dit vir die landbou onaantreklik om nuwe poste te skep of te vul,” sê Marais.
Beloftes van infrastruktuur
Intussen sê Marias hulle is opgewonde oor die beloftes wat Zuma gemaak het oor die verbetering van infrastruktuur om die landbou te ondersteun. “Ons sal egter die proses voortdurend monitor en aanbevelings maak ten einde te verseker dat probleme reg geprioritiseer word.”
Zuma se aankondiging van belastingkortings van R20 miljard vir die vervaardigingsektor is ook verblydend vir die landbou, meen mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
“Die vraag na landbouprodukte is tans onder druk, en dié stap kan lei tot ‘n bykomende vraag na landbouprodukte wat ‘n baie goeie ding kan wees.”
Die feit dat die President niks oor die bedreiging van suur mynwater en die bekommernisse wat daaroor bestaan gesê het nie, is baie teleurstellend, meen die TLU SA.
11 Februarie 2011