Die bekroonde weidingkundige en boer mnr. Kotie van den Berg vertel van sy jare lange ervaring vir die brand van suurpolbergveld in die Oos-Karoo:
Beheerde brande is onlosmaaklik deel van suksesvolle veldbestuur, sê mnr. Kotie van den Berg van die plaas Beeldhouersfontein, Murraysburg. Hoe deegliker beplanning vooraf gedoen word en hoe meer faktore in ag geneem word, hoe beter kan die veld daarna herstel en terugbons.
Van den Berg, wat deel is van die familie wat die langste op Landbouweekblad ingeteken is en sedert 1919 nie ’n enkele uitgawe misgeloop het nie, is in 2012 as die Weidingsvereniging van Suider-Afrika (WVSA) se topbewaringsboer in die Wes-Kaap aangewys.